Vier beseer tydens ontploffing in werkswinkel

Die werkswinkel was by brandbestryders se aankoms op die toneel in ligte laaie. Foto: Verskaf

Vier mense is ernstig beseer, van wie een in ʼn kritieke toestand was, ná ʼn chemiese ontploffing by ʼn werkswinkel in Boksburg aan die Gautengse Oos-Rand.

William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni‑ramp- en nooddienste, sê noodpersoneel is Donderdag omstreeks 15:15 na dié toneel in Main Reefweg ontbied. Die werkswinkel is deel van ʼn fabriek wat langs die Dunswart-treinstasie geleë is en by brandbestryders se aankoms was die gebou reeds in ligte laaie.

“Brandbestryders van die Boksburg Leon Ferreira-, Boksburg Sentraal- en Rynfield-brandweerstasie het almal op die noodroep gereageer en altesaam vyf brandweerwaens was op die toneel. By hul aankoms kon ontploffings van binne die werkswinkel gehoor word soos 210ℓ-houers deur die werkswinkel se dak geskiet het,” sê Ntladi.

Die werkswinkel was by brandbestryders se aankoms op die toneel in ligte laaie. Foto: Verskaf

Brandbestryders moes vinnig werk om die brand onder bedwang te bring en die vlamme te blus voordat dit na die aangrensende strukture kon versprei.

Vier werknemers van die fabriek moes op die toneel mediese behandeling ontvang voordat hulle na hospitale gehaas is.

“Een manlike pasiënt was in ʼn kritieke toestand weens brandwonde aan sy gesig, nek en weens rookinaseming. Hy is na die Glenwood-hospitaal gehaas. Die ander drie pasiënte is ook ernstig beseer en het inasemingsbrandwonde en oppervlakkige brandwonde aan hul liggame opgedoen. Hulle was egter in ʼn stabiele toestand en is na onderskeidelik die Tambo Memorial- en die Sunshine-hospitaal geneem.”

Volgens Ntladi word vermoed die brand het ontstaan weens ʼn chemiese reaksie in die werkswinkel, maar die presiese oorsaak sal deur ʼn deeglike ondersoek vasgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.