Vier blitsig ná gewapende roof vasgetrek

Foto: Verskaf.

Vier verdagtes is Woensdag blitsig ná ʼn rooftog by ʼn onderneming in Wentworth, suid van Durban, vasgetrek.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die rooftog het omstreeks 10:30 in Brooklynweg plaasgevind.

“Werknemers is met vuurwapens aangehou terwyl die verdagtes selfone en ʼn onbevestigde hoeveelheid kontant uit die kasregisters gesteel het,” het Zwane gesê.

Die verdagtes het reeds van die toneel gevlug voor die polisie opgedaag het. “Polisiebeamptes het in die woonstelle in Wentworth begin soek en die eerste verdagte is in Alabamaweg aangetref waar hy weggekruip het,” het Zwane gesê.

Die polisie het tydens die inhegtenisneming beslag gelê op ʼn sak vol ammunisie, ʼn okapimes en twee selfone.

Die tweede verdagte is in Constantiaweg in hegtenis geneem toe hy bo in ʼn boom in ʼn parkie weggekruip het.

“ʼn Derde verdagte het probeer om die polisiebeampte met ʼn voorwerp te steek en hy is gevolglik in die voet geskiet. Die vierde verdagte is by ʼn plaaslike vulstasie vasgetrek,” het Zwane gesê.

Foto: Verskaf.

Die verdagtes is tussen 22 en 35 jaar oud.

Sake van sakeroof, poging tot moord, die besit van vermoedelik gesteelde goedere, die besit van ʼn gevaarlike wapen en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen word ondersoek.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

Genl.maj. Bheki Langa, die provinsiale waarnemende polisiekommissaris, het gesê die polisie sal ondersoek instel om vas te stel of die verdagtes met enige ander rooftogte in Durban en omliggende omgewings verbind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.