Vier brand dood ná huise brand

Argieffoto: Phillip Bruwer

Vier mense, onder wie drie kinders, het Sondagaand in ’n brand in Germiston, Gauteng, omgekom.

Volgens inligting het ’n brand in ’n huis in die Marathon- informele nedersetting in Germiston uitgebreek en die vlamme het na ander huise versprei. Die brand is vermoedelik veroorsaak deur ’n paraffienstoof wat sonder toesig in een van die huise gelaat is.

Volgens William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-rampbestuurdiens, is brandbestryders om 23:13 na die nedersetting ontbied.

“Met brandbestryders se aankoms op die toneel was verskeie huise in vlamme gehul. Die vlamme het reeds na ander huise ook versprei,” sê Ntladi.

“Direkte brandonderdrukking is begin om verdere verspreiding te voorkom.”

Nadat die vlamme geblus is, het omstanders die brandbestryders in kennis gestel dat hulle drie kinders, onderskeidelik nege, sewe en twee jaar oud, en ’n volwasse vrou nie kon red nie. Die kinders en vrou was in verskillende huise.

Die kinders se ma het ligte brandwonde opgedoen.

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

Maroela Media het vroeër berig van ’n tweeling van 15 maande oud wat Donderdagaand in ’n huisbrand in Boksburg, Gauteng, doodgebrand het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.