Vier by begrafnis in hegtenis geneem

Die vuurwapen waarop daar beslag gelê is. Foto: SAPD

Vier mans is Saterdag in hegtenis geneem by ʼn begrafnis in Bityi in die Oos-Kaap nadat ʼn ongelisensieerde vuurwapen in hul besit gevind is.

Dié begrafnis van Mbuzeli Mshumpela (47), ʼn taxibaas wat op 3 September doodgeskiet is terwyl hy op pad na sy huis in die Julukuqu-nedersetting was, is fyn deur die polisie gemonitor.

Kapt. Dineo Koena, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn Quantum-bussie is by die begrafnis deur polisiebeamptes deursoek en ʼn 9 mm-pistool, waarvan die reeksnommer afgevyl is, en sewe patrone is gevind waar dit in die enjin versteek was. Die vier insittendes in die bussie is onmiddellik in hegtenis geneem.

Volgens Koena is die verdagtes tussen 36 en 48 jaar oud en van Kaapstad afkomstig. Hulle sal Maandag in die Bityi- rondgaande hof verskyn op aanklagte van besit van ʼn onwettige vuurwapen en besit van onwettige ammunisie.

Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit in die uitvoer van enige misdade gebruik is.

Intussen is niemand nog in hegtenis geneem vir die moord op Mshumpela nie. Die motief vir die moord is ook nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.