Vier by Prasa gepos oor tenders

(Argieffoto: Untu)

Die Passasierspooragentskap (Prasa) het vier senior werkers in sy beskermingsdiensdepartement in die pad gesteek wat aan tenderongerymdhede skuldig bevind is.

Die vier is aan ʼn tugverhoor onderwerp ná bewerings dat tenders onbehoorlik toegeken is.

Prasa het die stap as ʼn mylpaal bestempel in pogings om die organisasie reg te ruk. Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het Bongisizwe Mpondo verlede jaar as administrateur by Prasa aangestel. Een van sy pligte was om te verseker daar is opvolgbestuur.

Mbalula het Prasa destyds as ʼn gebroke onderneming bestempel ná jarelange wanbestuur, veral in die departemente vir verkryging- en veiligheidsdienste. Die wanpraktyke is ook uitgewys in ʼn 2015-verslag van die destydse Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela.

Die ongerymdhede waarby die vier betrokke was, dateer so ver terug as 2009.

Prasa sê die voorsitter van die dissiplinêre komitee het Vrydag uitspraak gelewer in die vier beamptes se tugsaak. Hy het bevind hulle het as senior amptenare hul pligte – om te verseker dat Prasa se verkrygingstelsel billik, deursigtig, kostedoeltreffend en mededingend is – versaak.

Volgens Mpondo het die wanbestuur Prasa se vermoë om sy infrastruktuur te beskerm, ondermyn.

“Prasa gaan voort om die probleem met onregmatige verkryging te pak deur werkers beter oor die proses te bemagtig, asook deur gevolgebestuur, soos wat dié optrede wys.”

Die vervoervakbond Untu het die stap verwelkom en sê dit is die eerste afdankings wat spruit uit Madonsela se verslag wat reeds vyf jaar gelede uitgereik is.

Steve Harris, sekretaris-generaal van Untu, sê die vakbond was nog altyd van mening dat Prasa stappe moet doen teen diegene wat van ongerymdhede beskuldig word.

“Untu steun Prasa se pogings om korrupsie uit te roei en ontslae te raak van die vrot appel wat sy pogings om ʼn trotse, veilige en betroubare diensverskaffer van passasierspoordienste te word, vertraag.

“Dit is in belang van alle Prasa-werkers dat die onderneming bedryf word met behoorlike verkrygingstelsels wat ʼn betroubare diens onderhou – iets wat die afgelope paar jaar te kort geskiet het,” het Harris gesê.

Hy het gesê hy hoop nog soortgelyke stappe volg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Termiet ·

Goed en wel hulle is gepos, maar wat van die geld? Hulle lag nog net al die pad bank toe! Wat van kriminele vervolg ing?

Gemaskerde Sopbeen ·

En dit vat so lank. Hulle sal beslis nie die geld terug gee tensy daar beslaglegging gedoen word nie. Krimineel vervolg? Ek twyfel. Dalk verplaas en bevorder eerder.

Pierre ·

So 11 jaar later en nog steeds ‘n salaris ontvang. Tot en met nou. Nou word hulle net laat gaan! Vervolg, sluit toe, herwin die geld. O sorry – ek droom nou.

Sobymykoolkop ·

Waar is die name? Sal met hul ” ondervinding” weer iewers anders op die soustrein ontplooi word. Wat UNTU betref, raak soos die oposisie party van die land.

JohanR ·

Die 4 net gepos, nie tronk toe nie? Watter poste sal dit wees? Ambassadeurs na Barbados, Brazil, Mauritaus en Tahiti ?

Rodger17 ·

Dis nie te se daar is nie nog skelms nie,ander moet nog net eendag gevang word

Alexander ·

Hulle hoort agter tralies en al hul bates moet herwin word. Of dit wel gaan gebeur is sterk te betwyfel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.