Vier mense is dood en 12 mense beseer in ʼn ongeluk op die R573 Molotopad naby Kwaggafontein in Mpumalanga.
Ao. BJ Mahlangu, woordvoerder van die polisie, sê ʼn minibustaxi se band het gebars waarna dit omgeslaan het. Drie passasiers en die bestuurder is op die toneel dood. Mahlangu sê die beseerdes is op die toneel behandel voor hulle na hospitale in Mpumalanga en Limpopo vervoer is vir verdere behandeling. Die taxi was glo van Denneboom naby Pretoria na Groblersdal in Limpopo onderweg.
In November verlede jaar is 30 mense dood in ʼn botsing tussen ʼn bus en ʼn vragmotor op dieselfde pad ook naby Kwaggafontein.