Vier dood, 15 beseer toe trokke bots

Die ongelukstoneel. Foto: ER24

Vier mense is dood en ongeveer 15 ander beseer toe twee vragmotors Donderdag op Malibong-rylaan by Cosmo City in Johannesburg gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is net na 08:00 na die toneel ontbied. Daar het hulle die wrakke van die twee vragmotors in die middel van die pad aangetref met een van die voertuie wat gedeeltelik onder die ander wrak vasgedruk was.

“Verskeie mense wat agterop die vragmotors was, het verspreid oor die toneel gelê,” het Meiring gesê. Die pad is afgesper terwyl nooddienste op die toneel besig was.

By nadere ondersoek het paramedici gevind vier mense het noodlottige beserings opgedoen.

“Ongeveer 15 ander mense is ook ondersoek. Vier van hulle was in ʼn kritieke toestand, terwyl die ander geringe tot matige beserings opgedoen het.”

Volgens Meiring moes drie van dié wat kritiek beseer is per helikopter na hospitale geneem word. Die res is per ambulans na nabygeleë hospitale gehaas.

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet Pompies ·

Dit is 2018, word mense nog agter op Trokke vervoer op die besige paaie van JHB, dit is onwettig.

Danie ·

Moenie vergeet nie: Dit is mos net onwettig as ‘n wit ou agter die stuur sit.

Theresa ·

Rede vir die ongeluk sal heel moontlik wees: Roekelose gejaag en van baan na baan teen hoë spoed sonder enige omgee oor ander motors op die pad deur die drywers.
Die arrogansie van trokdrywers is uitputtend.
Die 80km wat hul veronderstel is om in die LINKER kantste baan te ry, is vir die voëls en minag meeste van hul (saam met busdrywers en taxidrywers) die verkeersreëls. Net omdat hul wil. Skadelik.

Penellope Jones ·

Nie ‘n enkele dag gaan verby waar vragmotors en taxis nie in botsings betrokke is nie.
Nie ‘n enkele dag nie.
Is daar ooit nog iets soos wettige bestuurderslisensies, respek, bewustheid teenwoordig ?

Lukas van Zyl ·

En nie n enkel dag gaan verby waar , vragmotors in hierdie geval, bots en mense wat glad nie op die toneel was ekspert opinies lewer nie

janneman ·

Jy is reg Lukas. Soms is dit in die fotos voor die hand liggend wat die omstandighede was wat tot n ongeluk gelei het, maar meestal nie. Daar is inderdaad heelwat vragmotors, busse en taxis betrokke in voertuig ongelukke, maar slegs die ongelukke waar groot lewensverliese gelei was, word in die media gerapporteer, daarom fokus hierdie drie vervoer middelle. Dit is egter minder as 15 persent van daaglikse ongelukke, en in verreweg die meeste ongelukke is privaat voertuie ook betrokke, wat eintlik die pad gedrag van privaat voertuig bestuurders die grootste oorsaak van ongelukke maak, bv wat as n motor by die trok verby gejaag het, skielik voor die trok gerem het en die trok met die perwoneel daarop moes uitswaai om n fatale botsing te vermy, en in die proses onder die groter trok beland het?

Wonder net ·

Malibong? Verskeie mense wat agterop die vragmotors was het verspreid gelê???
DIT KLINK NIE REG?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.