Vier dood, agt kritiek toe taxi rol

Argieffoto Foto: ER24

Argieffoto Foto: ER24

Vier mense is dood en agt ernstig beseer nadat ʼn minibustaxi op die R103 naby Vosloorus, suid van Boksburg, gerol het.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het omstreeks 11:00 by die toneel opgedaag en die insittendes van die taxi gevind waar hulle oor die pad geslinger was. “Ons verstaan die insittendes is uit die taxi geslinger toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en dit verskeie kere gerol het,” het Vermaak gesê.

Vier mense was reeds dood toe paramedici by die toneel opdaag. Agt ander mense, insluitend twee kinders van agt en nege jaar oud, is ernstig beseer. Die kinders is per helikopter na die hospitaal vervoer. “Die meeste van die beseerdes het ernstige beenbreuke en kopbeserings opgedoen,” het Vermaak gesê.

Volgens Vermaak was daar glo 18 mense in die taxi ten tyde van die ongeluk. Al die beseerdes is na plaaslike hospitale gehaas vir behandeling.

“Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie, maar sal deur die plaaslike owerheid ondersoek word,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Ek dink spoed en roekelose bestuur is die hoofbestanddele van al hierdie ongelukke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.