Vier dood, een kritiek toe geweerwinkel brand

Die nooddienste Vrydag op die toneel. (Foto: ER24)

Vier mense, onder wie ’n tiener, is dood toe ’n brand Vrydag by ’n geweerwinkel in Glananda suid van Johannesburg ontstaan het.

Nog ’n man, glo die eienaar van die vuurwapenwinkel by die Glenanda-winkelsentrum, is ná die brand in ’n kritieke toestand na die hospitaal gehaas.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê ontploffings kon omstreeks 11:55 by paramedici se aankoms op die toneel in die winkel gehoor word.

Die plaaslike veiligheidsmaatskappye en brandweer was reeds op die toneel.

Omstanders het in dié stadium reeds drie mans, ’n vrou en ’n 15-jarige seun uit die brandende gebou gebring.

Die pasiënte was almal in ’n kritieke toestand en het dringende mediese behandeling ontvang, sê Meiring.

Die nooddienste Vrydag op die toneel. (Foto: Verskaf)

Twee van die mans, die vrou en die tienerseun het egter ten spyte van paramedici se pogings, later aan hul beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar.

Sarah Wissler, ’n voornemende wyksraadslid van ActionSA wie se kantore oorkant die pad geleë is, vertel dat ’n kollega haar van die brand ingelig het, waarna hulle oorkant die pad gehardloop het om hand by te sit.

“Ons het eers gedink dis geweerskote wat afgevuur word en toe besef ons die geweerwinkel brand.”

Wissler vertel dat die eienaar van die geweerwinkel ook uit die winkel gebring is. Hy het egter baie sleg gebrand en is na ’n hospitaal geneem vir dringende mediese behandeling.

“Dit was verskriklik om te sien hoe dit alles gebeur. In dieselfde asem was dit ook wonderlik om te sien hoe baie mense probeer help het. Dís waarvoor ’n gemeenskap gaan.”

Die oorsaak van die brand is nie in dié stadium bekend nie en die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Dit is tragies. Hoop nie Hoedman gaan nou vuurwapenhandelaars toemaak nie.

Duck ·

wat is dit dan nou dat als so brand?
Plase, trokke, eskom se transformers, winkels?

JL ·

Hospitale, Kragstasies, Hawens, treine, skole, Tersiêre Instellings ens. Mens hoor niks van inhegtenisneming nie. Daar word altyd ‘n ondersoek wat geloods, met “The cause presumed to be fire”.!

boerie ·

Swak van julle, dit is n vuurwapen handelaar en nie n geweerwinkel nie. Tyd dat julle sokkies moet optrek en ordentlike Afrikaans gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.