Vier dood ná rooftog by Edenvale-winkelsentrum   

(Foto: Yusuf Abramjee/Twitter)

Vier mans is Donderdag doodgeskiet kort nadat ʼn klerewinkel by die Stoneridge-winkelsentrum in Edenvale aan die Oos-Rand beroof is.

Polisiebeamptes wat die area gepatrolleer het, het inligting ontvang dat die Studio 88-klerewinkel beroof is en het hulle na die toneel gehaas.

Volgens genl.maj. Girly Mbele, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het ʼn groep van ses verdagtes op polisiebeamptes losgebrand by hul aankoms op die toneel.

“Die beamptes het teruggeskiet en vier rowers is noodlottig gewond. Nog een is beseer en die ander een is in hegtenis geneem.”

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê by paramedici se aankoms op die toneel is vier mans in ʼn voertuig vol koeëlgate aangetref. Hulle is op die toneel dood verklaar.

“Nog ʼn verdagte is in ʼn kritieke toestand aangetref. Die man is op die toneel behandel voordat hy onder toesig van die SAPD na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is.”

Die goedere wat tydens die rooftog gesteel is, is in die verdagtes se motor gevind. Daar is ook op drie vuurwapens beslag gelê.

Die verdagtes se motor het vervalste nommerplate opgehad en volgens Mbele word daar vermoed dat dit ʼn gesteelde motor is.

Die bestuur van die Stoneridge-winkelsentrum het die rooftog bevestig en gesê lede van ʼn private veiligheidsmaatskappy was ook in die skietgeveg betrokke.

“Die veiligheid van ons klante, huurders en werknemers bly ons topprioriteit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ES ·

Goeie werk deur die privaat sekuriteitsdienste en polisie. Dis die engiste manier hoe ons hierdie tipe misdaad gaan uitsorteer.

Sean ·

6 mans het op SAPS losgebrand en geskiet????? 3 wapens is op beslag gelê??????

Jr ·

Ek dink nie hulle vra die rowers hoeveel wapens skiet. As skote van hulle kant af kom sal ek ook aanvaar ses mense skiet op my. Maar nou ja goeie vraag

Henri ·

Maar gedurende ‘n transito-roof is die polisie bitter min daar om te help. Of, soos in die verlede gesien, help van hulle dalk aan die verkeerde kant?

Naas Oekraïne word die meeste aanvalsgewere seker hier in SA gebruik?

Swerwer ·

Die lewe in hierdie Sodom en Gemorra Suid Afrika is darem ‘n lied!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.