Vier dood toe band bars

Een van die voertuie wat in die ongeluk op die R101 buite Naboomspruit betrokke was. (Foto: Facebook)

Vier mense is dood en een ernstig beseer toe ʼn Toyota-sedan en Opel-bakkie reg van voor met mekaar gebots het.

Die ongeluk het op die R101 naby Mookgophong (Naboomspruit) plaasgevind. Volgens Limpopo se departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid het een van die sedan se bande gebars en die bestuurder het beheer oor die motor verloor en reg van voor met die Opel gebots.

Vier mense, onder wie albei bestuurders, is op slag dood. Volgens die departement het die provinsie sedert Woensdag ʼn toename in padongelukke ervaar. “Roekelose en nalatige bestuur het bygedra tot die toename in noodlottige ongelukke wat ons die afgelope paar dae beleef het,” sê Mavhungu Lerule-Ramakhanya, provinsiale LUR van vervoer en gemeenskapsveiligheid.

Hy het motoriste versoek om te verseker hul voertuie is padwaardig voordat hulle lang reisie tydens die feestyd onderneem. “Die getal voetgangers wat deurlopend raakgery word deur motoriste wat die spoedgrens oorskry, is ook kommerwekkend.”

Intussen is die bestuurder betrokke in die ongeluk waartydens nege mense Saterdag dood is, van dronkbestuur en manslag aangekla.

Die voertuig het 05:00 Saterdagoggend op die R573 in Mpumalanga gery, toe die bestuurder glo beheer oor die voertuig verloor en van die pad af gery het. Sewe passasiers is op die toneel dood verklaar, terwyl nog twee onderweg na die hospitaal dood is. Die bestuurder is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas, maar is sedertdien ontslaan.

“Hy is onmiddellik in hegtenis geneem vir manslag, dronkbestuur en roekelose en nalatige bestuur,” het ʼn woordvoerder van die polisie Maandag gesê.

Die bestuurder sal binnekort in die hof verskyn en aansoek om borgtog doen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.