Vier dood toe polisie op groep ‘kapers’ toeslaan

Die voertuie op die perseel in Presidentpark, Midrand. (Foto: SAPD)

Vier vermeende kapers is doodgeskiet en 23 ander in hegtenis geneem toe die polisie Vrydag op dié groep in Midrand in Gauteng toegeslaan het.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê ’n multidissiplinêre span, onder wie lede van die polisie se eenheid vir misdaadintelligensie sowel as die Johannesburgse blitspatrollie en die spesiale taakmag, het op ’n groep van 27 vermeende kapers by ’n perseel in Presidentpark toegeslaan.

Die verdagtes was voor die klopjag glo van plan om ’n vragmotor tussen Pretoria en Johannesburg te kaap.

Sommige van die verdagtes was gewapen en het met die owerhede se aankoms op die toneel skote afgevuur. Die polisie het teruggeskiet en vier verdagtes is doodgeskiet. Altesaam 23 verdagtes, van wie vier tydens die skietery gewond is, is in hegtenis geneem.

Een van die vuurwapens waarop daar Vrydag beslag gelê is. (Foto: SAPD)

Die gewonde verdagtes is onder polisiebewaking na ’n hospitaal geneem terwyl die oorblywende 19 tans in aanhouding is.

Daar is vroeër vandag op drie gewere, twee pistole en 15 voertuie op die toneel beslag gelê. Vier van dié voertuie is vroeër in Garsfontein, Silverton, Wierdabrug en Olifantsfontein gekaap of gesteel, sê Naidoo.

Die verdagtes sal almal van poging tot moord, sameswering om gewapende roof te pleeg, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie sowel as die besit van vermoedelik gesteelde voertuie aangekla word.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het intussen gesê die multidissiplinêre span het vandag ’n baie belangrike bydrae gemaak tot die polisie se pogings om georganiseerde misdaad in die land hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Persheks Adri ·

Wel gedaan julle om die kriminele te vang! Darem 5 wapens uit die hande van kriminele. Glo daar’s nog baie daar buite so soek hulle en kry hulle en los ons eerlike burgers se wapens uit!

Adri ·

criminals = misdadigers. Kriminele is ‘n byvoeglike naamwoord: bv. kriminele elemente. ☺

Pot se lepel ·

Die wapen op die foto is n AK 47. Geen van hulle is lisensieer aan Piet Publiek nie, so Piet Publiek is nie die bron nie.

Swanies ·

Goeie hemel! Wie staan ‘n kans teen ‘n groep van 27 misdadigers? Dit is vreesaanjaend.

Oomniklaassevriend ·

Dit sal nie help om die wetsgehoorsame publiek te ontwapen nie Hoed, daardie aanvalsgewere kom nie van hulle af nie.

Renee ·

Hoeveel onwettige wapens en onwettige emigrante was betrokke?

KB ·

En wíé sit agter dit alles? Skraap die siek “grootkoppe”.

Dirk Mostert ·

“Wanted: Dead or Alive” soos in die goeie ou Wilde Weste. Nou kan die SAP (m.b.v. Scopalamien) uitvind wie versprei die onwettige vuurwapens.

Werner ·

Daai wapens is Maandag weer terug in die hande van die volgende kapers

Mariana ·

Hulle sal binnekort weer op straat wees om hul dade te pleeg.

Francois ·

Wonder hoeveel was polisie beamptes, weermag mense en staadsdiens mense

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.