Vier dood weens swaar reën in KZN

Vloedwater in Durban, KwaZulu-Natal (Julie 2016). Foto: SAPD

Vloedwater in Durban, KwaZulu-Natal (Julie 2016). Foto: SAPD

Minstens vier mense is dood nadat swaar reën die afgelope paar dae chaos in KwaZulu-Natal veroorsaak het.

Lennox Mabaso, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse departement vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het aan Maroela Media gesê een van die oorledenes is ʼn ma van twee wie se motor Maandagaand in Silverglen in Chatsworth deur vloedwater meegesleur is. Haar liggaam is Dinsdag deur die polisie se K9- en soek-en-reddingseenheid gevind.

“Drie mense van Ethekwini is deur elektriese kragdrade doodgeskok weens die swaar reën,” het Mabaso gesê. “Die name van die oorledenes sal bekendgemaak word sodra hul naasbestaandes ingelig is.”

Vloede Maandag in Durban. Foto: SAPD

Vloede Maandag in Durban. Foto: SAPD

Mabaso het gesê die dodetal kan moontlik styg aangesien reddingspanne nog soek na mense wat deur vloedwater meegesleur of andersins vermis geraak het. “Ons raak gefrustreerd om te hoor dat motoriste steeds probeer om oorstroomde paaie te gebruik ten spyte van rampbestuur se waarskuwings. Elke keer as iemand in vloedwater beland, word nie net hul lewens nie, maar ook die lewens van die reddingswerkers in gevaar gestel,” het hy gesê. “Ons versoek motoriste om geduldig te wees, ag te slaan op waarskuwings en slegs as dit noodsaaklik is te bestuur.”

Hy het gesê reddingspanne van al die KwaZulu-Natalse munisipaliteite werk onverpoosd sedert die swaar reën begin val het. “Die ergste geaffekteerde gebiede in die provinsie is tans die Ugu-distrik waar talle huise oorstroom is en noodakkommodasie aan inwoners verskaf moes word, asook groot dele van Durban onder meer Amanzimtoti, Inanda, Ntuzuma, KwaMashu, uMlazi en Yellowwood Park. Die ganse sakesentrum van Amanzimtoti is oorstroom,” het hy gesê.

Hy het gesê baie inwoners moes hul huise ontruim, op plekke het mure ineengestort en paaie is deur modderstortings onbegaanbaar gemaak. Daar is ook aansienlike skade aan kragstasies en -drade aangerig wat die departement besig is om te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KarooKlong ·

Moet iets fout wees in KZN. Die provinsie is feitlik elke dag in die nuus.

Cherokee ·

Niks fout nie, is net oorlat ons so belangrik is. Grappies op ‘n stokkie, ek woon in Durban op die strand en dit stortreën nou vir die derde dag. Die grooooot dam hier voor die woonstel is vôl!

Albert Marais ·

KarooKlong, Jy is dood reg. Kom ons kyk na al die motor ongelukke op die paaie. Ek is oorsprongklik van Gauteng en het nog nie so iets soos hier en spesifiek op die N2 , gesien nie.
Ek weet nie weet nie waar en hoe meeste van hulle, hul bestuurs lisensies gekry het nie,

Cherokee ·

Dit is die Gautengers wat jy sien ry op die N2, Albert. Hulle ry hier asof hulle in Jo’burg is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.