Vier doodgeskiet by Benoni-mynskag

Die toneel waar 10 onwettige mynwerkers se liggame in Junie 2014 gevind is. Foto: @crimeairnetwork, Twitter

Die toneel waar 10 onwettige mynwerkers se liggame in Junie 2014 gevind is. Foto: @crimeairnetwork, Twitter

Die liggame van vier onwettige mynwerkers is Donderdagoggend by ʼn ou mynskag in Benoni aan die Oos-Rand gevind.

“Ons het pas by die toneel opgedaag en op die lyke afgekom. Drie mense is beseer en is onder polisiebewaking in die hospitaal,” het kapt. Tsekiso Mofokeng, woordvoerder van die polisie, gesê.

Volgens Mofokeng het die voorval vermoedelik oornag plaasgevind. “Ons vermoed dat een van die onwettige mynwerkers die polisie gebel het en van die voorval in kennis gestel het. Die saak word ondersoek,” het sy gesê. Die polisie het op Twitter gesê vyf verdagtes is in hegtenis geneem.

Verlede maand is twee metropolisiebeamptes deur ʼn groep van sowat vyf onwettige mynwerkers by ʼn goudmyn in Benoni aangeval. Geen beserings is aangemeld nie.

In Junie verlede jaar is die liggame van 10 onwettige mynwerkers by ʼn ongebruikte myn in Benoni gevind. Hulle is almal doodgeskiet en veiligheidswagte het verskeie koeëldoppies naby hul liggame gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.