Vier doodgeskiet toe polisie kaping fnuik

Argieffoto (Foto: Kent Williamson)

Owerhede het Woensdagoggend ʼn gepoogde kaping van ʼn vragmotor in Johannesburg gefnuik. Vier vermeende kapers is in die proses doodgeskiet en twee ander in boeie geslaan nadat polisiebeamptes hulle agternagesit het.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê die Valke se taktiese operasionele bestuurspan het inligting van die nasionale polisie se eenheid vir misdaadintelligensie ontvang oor ʼn beplande kaping in die omgewing van Midrand.

Die vragmotor het na bewering elektroniese toestelle vervoer.

Die owerhede het op die inligting gereageer en die geïdentifiseerde verdagtes se vier voertuie op Olifantsfonteinweg in Glen Austin opgemerk.

Die insittendes van die voertuie het die owerhede sien aankom en skote op wetstoepassingsbeamptes afgevuur, voordat hulle op die vlug geslaan het. Die beamptes is agterna en ʼn jaagtog en skietgeveg het gevolg.

Vier verdagtes is tydens die skietery noodlottig gewond. Twee ander het ligte beserings opgedoen, waarvoor hulle op die toneel behandel is voordat hulle in hegtenis geneem is. Die twee verdagtes sal nou binnekort in ʼn hof verskyn.

Twee ongelisensieerde vuurwapens is vanoggend op die toneel gevind.

Mogale sê die oorsprong van die verdagtes se voertuie sal ook ondersoek word. Daar word vermoed dat die voertuie moontlik gesteel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.