Vier ‘dwelmmuile’ by lughawe vasgetrek

Argieffoto

Twee mans en twee vroue is die afgelope drie dae in afsonderlike voorvalle by die OR Tambo-lughawe in hegtenis geneem nadat ʼn aansienlike hoeveelheid dwelms, vermoedelik kokaïen, in hul besit gevind is.

Lt.kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê in die een voorval is twee mans, onderskeidelik 48 en 53 jaar oud, by die lughawe voorgekeer en deursoek.

“Die 53-jarige man se bagasie is deursoek en kokaïen met ʼn geskatte straatwaarde van R1,3 miljoen is in ʼn versteekte kompartement van sy bagasie gevind,” het Mogale gesê.

“Die 48-jarige man is deursoek en daar is deur ʼn X-straalmasjien vasgestel dat hy vreemde voorwerpe in sy maag het. Die verdagte is na ʼn hospitaal geneem waar 13 kapsules vol kokaïen veilig verwyder is. Daar is ook ʼn verdere 49 kapsules vol kokaïen in ʼn gebreekte toilet op die vliegtuig gevind wat die man gebruik het.”

Mogale het gesê die twee vroue, onderskeidelik 53 en 34 jaar oud, is in hegtenis geneem toe hulle met hul bagasie aan boord ʼn vlug na Dubai voorgekeer en deursoek is.

Albei vroue se bagasie is deursoek en daar is vasgestel dat albei se tasse versteekte kompartemente het.

“Daar was verskeie graanvlokkiebokse en ʼn skommelhouer vol kokaïen in die bagasie van die 53-jarige vrou gevind. Die dwelms het ʼn geskatte straatwaarde van R980 000. Dwelms van nagenoeg R680 000 is in ʼn versteekte kompartement van die ander vrou se bagasie gevind. Die dwelms was in papier toegedraai.”

Die verdagtes moet binnekort in die hof verskyn op aanklagte van die besit en handel van onwettige dwelmmiddels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cycle ·

Sy kan bly wees sy’s hier gevang en nié in Dubai nie, eintlik jammer as jy my vra. SA moet doen wat die Asiers doen.

christa ·

leer sal hulle net nie. Volgende is weer gevra vir genade en almal moet jammer voel vir hulle.

se net ·

Se maar net in ander lande sou hul lewenslank en die doodstraf gekry het. Maar ag foei die SA regering is so gek na sulke mense en pamperlang hul tot hul einde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.