Vier geskors oor liggaam wat ontbind

Chris Hani Baragwanath-hospitaal Foto: Thabiso Makelo, Panoramio (Gelisensieer onder Creative Commons)

Chris Hani Baragwanath-hospitaal Foto: Thabiso Makelo, Panoramio (Gelisensieer onder Creative Commons)

Vier personeellede van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal is geskors nadat hulle die liggaam van ʼn 18-jarige meisie gelos het om te ontbind, het die departement van gesondheid Donderdag gesê.

“Dit volg na die voorlopige ondersoek oor die vervoer van die liggaam van die saal na die lykshuis en die manier waarop dit gehou is,” het Prince Hamnca, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê. “Die departement het tot die slotsom gekom dat sommige beamptes antwoorde moet verskaf.”

Die Sowetan het Donderdag berig Bacebile Mbete (18) is Vrydag by die hospitaal oorlede weens komplikasies tydens ʼn ektopiese swangerskap.

Haar oupa, Raymond Zikalala (82) het gesê haar liggaam is eers Maandag, drie dae later, na die lykshuis gestuur. Teen daardie stadium het die liggaam reeds só erg ontbind dat sy nie meer herkenbaar was nie.

Die liggaam is na die hospitaal teruggestuur toe die ondernemer gesê het dit is te ver ontbind om by die lykshuis aan te hou.

Hamnca het gesê die departement het die afgelope paar weke vinnig opgetree teen beamptes wat na bewering die gedragskode oortree het. “ʼn Dokter is onlangs ook met onmiddellike effek afgedank vir professionele nalatigheid,” het hy gesê.

Die vier personeellede van Baragwanath-hospitaal is geskors hangende die volledige ondersoek en tugverhore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swanna ·

“Die departement het tot die slotsom gekom dat sommige beamptes antwoorde moet verskaf.” My vrek, het hulle uiteindelik begin bykom in die samelewing en mense begin verantwoordelik hou vir dinge wat verkeerd gaan en nie reg gedoen word nie en nie hul pligte uitvoer soos dit veronderstel is om te gebeur nie.

Swanna ·

“Die departement het tot die slotsom gekom dat sommige beamptes antwoorde moet verskaf.” My wêreld, het hulle uiteindelik begin bykom! Kan nie glo dat hulle nou persone wil begin tot verantwoordelikheid wil roep vir hul swak optrede van die gedragskode, absolute nalatigheid en “don’t care ” houding by sulke instansies nie. Hou hierdie spasie dop. Sal graag wil weet of daar iets daarvan gaan kom?

Elfie ·

Eens op ‘n tyd was Baragwanath ‘n wêreldklas hospitaal…

Leeutjie ·

Jare terug toe ek die Lion King fliek gesien het, het ek gedink Steven Spielberg het S.A. se toekoms gesien. Toe Mufasa aan bewind was toe was alles mooi en groen en dinge het gefloreer. Toe kom Skaar en die wereld begin brand tot alles swart is. Ons is nou daar! Nou is my vraag? Gaan ons ook ‘n Simba he wat alles kom herstel en die wereld groen maak en ‘n beter plek maak? Ek is skepties…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.