Vier gesoek ná moord op jong man

‘n Vuurwapen wat op die moordtoneel gevind is (Foto: SAPD)

Speurders van die Algoa Park-polisiestasie in Port Elizabeth is op die spoor van vier verdagtes wat na bewering Maandag vroegoggend betrokke was by die moord op ʼn 23-jarige man.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Denver Simons en ʼn vriend het die oggend omstreeks 01:00 in Corsastraat in Algoa Park gestap toe vier mans hulle skielik genader het. Hulle het twee van die mans geken.

“Een van die mans was met ʼn vuurwapen gewapen en die ander drie het messe gehad.”

Die vier mans het Simons en sy vriend met die wapens gedreig voordat hulle die twee begin deursoek het.

“Hulle het R10 van die vriend gevat en Simons se selfoon en draagbare musiekspeler geëis. Simons het geweier om dit vir hulle te gee en dit het tot ʼn onderonsie gelei.”

Simons is in die nek gesteek en is op die toneel dood. Die verdagtes het daarna gevlug en die musiekspeler agtergelaat.

“ʼn Saak van moord en roof word ondersoek.”

In ʼn afsonderlike voorval is die 18-jarige Stefano Rossouw se liggaam Dinsdagmiddag in Jackstraat, Missionvale, gevind.

Daar word beweer dat Rossouw omstreeks 17:15 saam met drie mans in die straat geloop en oënskynlik oor geld gestry het.

“Rossouw se liggaam is net daarna deur ʼn gemeenskapslid gevind. Hy het in ʼn plas bloed gelê en het ʼn oop wond aan sy kop gehad.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

Enigiemand met inligting oor die voorvalle kan die Algoa Park-polisiestasie se speurdiens by 041 401 1061 of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks Adri

Aand klok reël nie van toepassing nie? Die land is ‘n bloed bad genade en maak iemand dood vir R10? Nee hel

Androclus

Oor jou eie besittings word jy dood gemaak en nog die musiekspeler los waarop hy aangedring het,en dan vlug.
Daai jongens is siek.

Gato

Dit is wat ‘n lewe nou in SA werd is. R10 en ‘n selfoon.
Werlikwaar mens het nie eers meer woorde om jou misnoeë met die misdaad situasie in die land uit te druk nie. Ek dink die Wilde Weste era in VSA was kinderspeletjies teen die huidige gebeure in SA.

Hannelie

Goeie genade….is n lewe nou n speaker, foon en R10 werd?

Casper

Geld die aandklokreël dan nie meer nie.