Vier gesoek ná twee vroue se skietdood in motor

Foto: SAPD

Die polisie in Polokwane het ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur na vier verdagtes wat betrokke was by die koelbloedige moord op twee vroue.

Die vroue het Saterdagoggend in ʼn motor in Zunestraat in Magna Via gesit nadat hulle met ʼn eiendomsagent byeengekom het om na sakepersele te kyk wat te huur is.

“Drie verdagtes, van wie twee gewapen, het die vroue in die motor genader en op hulle losgebrand,” het brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, gesê.

ʼn Vierde verdagte het in ʼn wegkommotor, ʼn rooi Hyundai-sedan met ʼn Gautengse registrasienommer, gewag. Ná die skietery het die drie verdagtes na die motor gehardloop, ingespring en teen ʼn hoë snelheid van die toneel gevlug.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het omstreeks 10:30 op die toneel aangekom.

“ʼn Motor was langs die pad geparkeer en vol koeëlgate. Twee vroue is in die motor aangetref.”

Een van die vroue is verskeie kere geskiet terwyl die ander vrou in die bors geskiet is. “Die vroue het geen tekens van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar.”

Volgens Mojapelo is die motief vir die moorde nog nie bekend nie en vorm deel van die ondersoek.

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om brig. James Espach by 082 576 0743 of lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 te bel. Inligting kan ook by Stop Misdaad, 08600 10111, aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Dink die EFF begin nou al .Ons sal nou wakkerder as ooit moet wees

iewers het n saak skeef geloop en word wraak geneem

Pieter

Die ANC land het sy alie gesien ons moes lankal standpunt in geneem het.

Cornelius

Hoe het die aanvaller geweet waar die twee vrouens gaan wees en daar vir hulle gewag. Iewers is iets nie lekker met die storie nie.

JohanR

Daai motor is ‘n gevaarlike ding! Moet nooit in jou motor alleen of met ander sit nie vir of op die selfoon of met ‘n gesels. Gebruik jou motor net on in te klim, uit te klim en meer te ry. Agter daai stuurwiel kan jy amper net niks doen nie…..jy is ‘n sitting duck! Dit is nou nog twee wit vroue wat in Polokwane doodgeskiet is. ‘n Mens kan net vra wat gaan aan?