Vier gevonnis vir moord op Limpopo-egpaar

Pat Peterson (Foto aan Maroela Media verskaf)

“Dis erg om te dink jy moet iemand vergewe wat so ʼn verskriklike ding gedoen het, maar jy móét.”

Só het Sonja Matthee Maandag aan Maroela Media gesê nadat vier verdagtes wat skuldig bevind is aan die moord op haar ouers, Pat en Cecil Peterson, Vrydag tot lewenslange tronkstraf in die hooggeregshof in Polokwane gevonnis is.

Dié egpaar is in September 2017 op hul plaas tussen Modimolle (Nylstroom) en Bela-Bela (Warmbad) aangeval. Pat is destyds tydens die voorval doodgeskiet en Cecil in sy kaak geskiet. Hy het ʼn maand later aan sy beserings in ʼn hospitaal beswyk.

Volgens lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, is Boitumelo Mathebula (32), Mpo Nkonyana (22) en Tshepo Tebula (37) elkeen twee keer lewenslange tronkstraf opgelê vir hul aandeel in die moorde. Hulle is ook elkeen tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir gewapende roof. Thatho Maringa (33) is twee keer lewenslange tronkstraf opgelê asook ʼn verdere 20 jaar tronkstraf vir gewapende roof. Al die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Maroela Media het vroeër berig vier aanvallers het klapmusse en handskoene gedra toe hulle destyds op die plaas TNT buite Bela-Bela toegeslaan het.

Hulle het op die dag omstreeks 09:00 die huishulp, wat buite die huis besig was, met ʼn vuurwapen gedreig en na die huis gedwing. Hulle het glo geld geëis.

Die egpaar het nie ten tyde van die aanval alleen op die plaas gewoon nie. Hulle het werkers gehad wat hulle permanent opgepas het. “Die werkers op die plaas is ongelooflik ondersteunend en die uitwerking [van die aanval] is baie erg op hulle. Twee van die werkers moes daardie dag vlug vir hulle lewe terwyl ’n ander die aanval moes aanskou en die skuldiges later uitken. Ons is baie dankbaar vir hulle.”

Drie van die vier verdagtes is kort ná die aanval in hegtenis geneem terwyl die vierde eers later aangekeer is.

Volgens Matthee was daar na bewering eintlik vyf mense betrokke by die moord op Pat en Cecil. Sy verduidelik dat daar ʼn werker is wat drie maande voor die aanval as kontrakwerker aangestel is. Dié verdagte was na bewering die informant en is aanvanklik aangekeer, maar later weer vrygelaat weens onvoldoende bewyse.

“Hy moes die kat uit die boom gekyk en inligting vir die ander deurgegee het,” verduidelik sy. “Dit is hartseer dat hy vrygelaat is. Hy was van sleutelbelang in die aanval,” glo Matthee.

Sy is andersins tevrede met Vrydag se uitspraak. “Ek is baie dankbaar dit het so uitgewerk. Hoewel dit nie hulle gaan terugbring nie, was dit ʼn regverdige uitspraak,” het Matthee gesê.

“Dit het aanvanklik nie gelyk of [die skuldiges] berou getoon het nie. Hopelik is daar mettertyd tog ʼn mate van berou. Op die ou einde moet ons vergewe. Ek is jammer vir hulle families,” het Matthee gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Carl Jordaan ·

Dit is wragtig nie maklik nie. Nie terwyl daar mense met hemde rondloop met die slagspreuk, Land or Death, Nie terwyl die MRK geen fout kan vind met n uitlating dat daar nie nou al nie, maar later n oproep gemaak sal word om blankes te vermoor, Nie terwyl daar rasse haat gepropageer word en gedreig word om grond sonder vergoeding te vat nie, nie terwyl die moord syfer op plase die afmetings van n volksmoord aanneem nie. Die bloed van ons mense kleef aan die hande van hulle wat sulke uitsprake maak en hulle wat nie omgee nie.

Cherokee ·

Wat is die verskil tussen die vonnisse? Dit word gelyklopend uitgedien.

Johan ·

Pat en Cecil is my vriend se ouers – nog steeds baie onstellend – ek wonder altyd hoe vergelyk die moordsyfers tans en met die apartheidsjare – wat het van ons land geword?

humor ·

Ek dink dit is nie realisties om enige berou van die tipe moordenaar te verwag.

Basie ·

Pat, jy is ‘n beter mens as ek. Ek respekteer jou siening en ek weet dit is reg. Dit sal net wild aan my vat wanneer dit sooo naby my is. Baie sterkte vir julle. Bose land waarin ons leef!

Boerin ·

Hoekom hul skuldig bevind op meer as een aanklag as hul in elk geval net vir een gestraf word met gelyklopende uitdiening van die straf? Nou gaan hulle vir so 7jaar in hul hotel sit en dan uitkom en verder moor!

Nettie ·

Nee, tannie, ons blankes – slagoffers van hierdie wrede misdade, MOET NIKS nie. Ons moet hulle nie jammer kry, vir hulle enige iets doen of gee, of vergewe nie. Want: jy kan miskien ‘n ander mens vergewe vir iets wat teen jou gedoen is, maar hierdie goed …… Nee, my liewe tannie, hulle het jou van jou ouers en die lewe wat jy voorheen geken het, beroof. Soos @Marius hierbo sê: GEEN vergifnis vir moordenaars nie.

MW ·

Praat ook maar uit beide kante van die mond, hierdie kastige moedertaal ondersteuners. Draai die seile al die pad na die wind

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.