Vier gevonnis wat halfmensbome wou steel

Halfmens in die Richtersveld- nasionale park (Foto: Winfried Bruenken (Amrum), eie werk via Wikimedia Commons)

Vier stropers is gevonnis wat bedreigde en beskermde halfmensbome in die ǀAi-ǀAis/Richtersveld-vredespark in die Noord-Kaap wou steel.

Die provinsiale departement van landbou sê die oortreders is deur lede van Ranger Corp, die botaniese span, die departement en die polisie in hegtenis geneem toe hulle in 2020 die bome, ook bekend as Pachypodium namaquanum, wou steel.

Hulle is sewe jaar tronkstraf opgelê op aanklagte wat verband hou met die stropery van vetplante, wat deur die Wet op Natuurbewaring beskerm word en betreding in ʼn nasionale park.

“Die verwydering en permanente skade aan die 14 halfmensbome is een van die ergste voorvalle in die geskiedenis van die Richtersveld-park weens die beduidende kulturele, toeriste en natuurlike waarde van die plante,” het Mase Manopole, LUR van die departement, gesê. “Weens die sensitiewe aard van die spesie sal hulle nie gerehabiliteer kan word in hul natuurlike habitat nie. Dit sal ʼn negatiewe impak hê op die spesifieke bevolking.”

Die spesie het groot waarde en is ʼn waardevolle bate van die park – die enigste nasionale park in Suid-Afrika waar die spesie bewaar word. Alle plante in die Noord-Kaap is beskerm en ʼn permit word benodig om dit te verwyder, te vervoer of te besit.

“Ons verwelkom die skuldigbevinding. Dit sal ʼn boodskap stuur dat ons as ʼn provinsiale regering ernstig is oor die bewaring van ons vetplante. Die oortreding sal ook as ʼn waarskuwing dien vir stropers dat ons nie sal rus tot hulle almal agter tralies is nie. Die stropery van vetplante is ʼn ernstige oortreding en ons sal dit hoegenaamd nie duld nie.”

Die Richtersveld- nasionale park (deel van die ǀAi-ǀAis/Richtersveld-vredespark) word gesamentlik bestuur deur die plaaslike gemeenskapsraad (die RGBK) en SANParke. Dit is die enigste nasionale park in die land waar die gemeenskap toegelaat word om in ʼn nasionale park te woon en te boer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.