Vier hoës weer in hof vir tenderbedrog

Sybil Ngcobo, Mmakgosi Mosupi, Valdis Romaano en Obakeng Mookeletsi (Foto: Itumeleng English, ANA)

Vier voormalige senior staatsamptenare sal Woensdag in die Palm Ridge- gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn vir hul beweerde betrokkenheid by ʼn tenderbedrogspul in die Gautengse departement van gesondheid. Die saak word al sedert Februarie 2007 deur die Valke ondersoek.

Sybil Ngcobo, voormalige departementshoof en rekeningkundige beampte, Mmakgosi Mosupi, voormalige hoof van inligtingskommunikasie en -tegnologie, Valdis Romaano, voormalige hoof van voorsieningskettingbestuur, en Obakeng Mookeletsi, voormalige adjunkdirekteur vir uitvoerende steun, word aangekla van korrupsie en oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).

Die vier is verlede jaar Oktober op borgtog vrygelaat.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG)​, sê die saak is uiteengesit vir die uitslag van die vertoë wat Ngcobo by die streekkantoor van die gespesialiseerde handelsmisdaad-eenheid in Johannesburg ingedien het.

Maroela Media het vroeër berig die departement het in 2008 ʼn tenderproses vir ʼn nuwe gesondheidsinligtingstelsel en ʼn elektroniese stelsel vir menslike hulpbronne goedgekeur. Die toeken van die tender was onderworpe aan die goedkeuring van die Gautengse tesourie.

Die beraamde koste vir dié nuwe stelsels het saam ongeveer R630 miljoen beloop.

Die tender is aan Baoki Consortium toegeken teen ʼn koste van meer as R1 miljard. Die maatskappy 3P Consulting is aangestel om die onderskeie kontrakte namens die departement te hanteer en in Maart 2008 is ʼn diensooreenkoms tussen die departement en Baoki onderteken.

Op 23 Mei 2008 het Mosupi en Mookeletsi saam met die verteenwoordigers van Baoki Consortium ʼn veranderingsbevel geteken en die tender aangepas sodat dié maatskappy ook onder meer kragopwekkers, meubels, rekenaars en spyseniering ten bedrae van R13,3 miljoen kon verskaf.

Hierdie dienste wat volgens die veranderingsbevel bygevoeg is, hou nie verband met die oorspronklike tender wat onderteken is nie. Die veranderingsbevel moes die dienste in ʼn afsonderlike tender gespesifiseer het.

Die verskaffer van die meubels, soos uiteengesit in die veranderingsbevel, was Ukwakha Design (Edms.) Bpk. Die eienaar van dié maatskappy, John Richard Payne, was ook een van die direkteure van 3P Consulting (Edms.) Bpk., die maatskappy wat die tenderkontrakte namens die departement hanteer het.

Die departement is op 27 Oktober 2008 in kennis gestel dat hy nie die kontrakte aan Baoki kan toeken nie weens ʼn gebrek aan geld.

Ten spyte hiervan het Ngcobo, Mosupi en Romaano op 3 November die finale kontrakte met Baoki onderteken.

Nog ʼn veranderingsbevel is op 26 November 2008 ingedien en Mosupi het aanbeveel dat ’n kontrak aan TLC Africa VSAT Solutions (TLC Africa) toegeken word. ’n Bevel is egter in Januarie 2009 onderteken wat Baoki toegelaat het om die diens te verskaf.

ʼn Diensooreenkoms is toe verder tussen die maatskappy Life Channel en AMETHYST, deel van die Baoki-konsortium, onderteken. Die ooreenkoms is later die jaar gekanselleer.

Dit word beweer dat Life Channel se direkteur, Phil Austin, vir Mosupi se familie betaal het om in Londen vakansie te gaan hou. Die reis is glo deur 3P Consulting gefasiliteer.

Dit word verder beweer dat AMETHYST verskeie kere groot bedrae geld ten bedrae van R300 000 in Mookeletsi se persoonlike bankrekening inbetaal het.

Payne en sy maatskappy het ook na bewering betaal vir die opknapping van Romaano se huis ter waarde van R952 358.

Lasbriewe vir die inhegtenisneming van Payne en Austin kon nog nie uitgevoer nie aangesien hulle in die buiteland is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Baardman ·

Lyk my die howe is n klug en mors van tyd en geld. Geen uitspraak is bindend nie. Sake word verwys na elke denkbare hof en op die ou end gebeur daar eintlik niks met die skuldiges, tensy jy nie deel is van die elite nie

Willem ·

Sjoe maar Valke is fluks!!!!Alles word in slowmotion ondersoek as dit by die people kom!!!!!!

Anoniem ·

Dit is hoekom ek alle Staatstenders wat ontvang word in my “inbox” net eenvoudig “Spam”.

Niklaas ·

Die Vinnige Valke is sedert 2007 al aan die ondersoek besig. Sjoe, dit klink na deuglike werk. En hierdie beskuldigdes het rustig voortgegaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.