Vier in hof ná Grootvlei-plaasmoord

Theo Bekker en sy vrou, Marlinda (Foto: Lizanne Fourie/Facebook)

Die staat het aangedui dat hy die borgtogaansoek gaan teenstaan van die vier verdagtes wat Donderdag in die landdroshof in Balfour, Mpumalanga, verskyn het vir die moord op die 71-jarige Theo Bekker en die aanval op sy vrou, Marlinda, op hul plaas in die Grootvlei-omgewing.

Siyanda Gift Ziqubu (18) en Kgahliso Motaung (18) asook twee minderjariges, onderskeidelik 16 en 17 jaar oud, word aangekla van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, die rig van ’n vuurwapen, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

’n Groot groep boere en gemeenskapslede het buite die hof met plakkate waarop staan “Stop Plaasmoorde” en “Farmers’ Lives Matter”, byeengekom om hul misnoeë oor plaasaanvalle en ‑moorde te kenne te gee.

Petrus Sitho, uitgesproke aktivis teen plaasmoorde en -aanvalle, het ook in die skare sy stem dik gemaak.

(Foto: Petrus Phakamile Sitho/Facebook)

(Foto: Petrus Phakamile Sitho/Facebook)

(Foto: Petrus Phakamile Sitho/Facebook)

Maroela Media het vroeër berig Theo Bekker en sy vrou (Marlinda) is Sondagoggend op hul plaas in die Grootvlei-omgewing aangeval. Die vier verdagtes het Bekker glo buite die huis voorgekeer en hom terug na binne gedwing. Hulle het na bewering op geld en vuurwapens aangedring.

Bekker is met ʼn onbekende voorwerp op sy gesig geslaan en keelaf gesny. Sy liggaam is op die kombuisvloer aangetref.

Marlinda is erg aangerand en onder meer met ’n plastieksak gesmoor.

Die huis is geplunder en die verdagtes het met ʼn bedrag geld gevlug, asook drie vuurwapens en die egpaar se Renault Kwid.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê die saak teen die vier verdagtes is tot Maandag uitgestel sodat die verdagtes formeel vir regshulp kan aansoek doen. Hulle is steeds in aanhouding.

“Volgens die staat het die verdagtes ’n gesamentlike doel gehad toe hulle die dag na Bekker se plaas gegaan het,” sê Nyuswa.

Die vier verdagtes se inhegtenisneming volg nadat die Bekker-egpaar se gesteelde motor in ’n ongeluk by Villiers in die Vrystaat betrokke was. Die polisie is van die ongeluk in kennis gestel en het daarop gereageer.

“Terwyl die polisie die voertuig deursoek het, het hulle een van Bekker se vuurwapens gevind. Daar is ook vasgestel dat die voertuig dié van die Bekker-egpaar is.”

Sitho het buite die hof sy misnoeë oor die plaasaanvalle uitgespreek en sê “dit is hartseer dat pres. Cyril Ramaphosa nog nie ’n woord daaroor gerep het nie”.

“Dit is die boere wat kos op die tafel bring, selfs vir die president en Julius Malema [wat Saterdag ‘Kill the boer, kill the farmer’ gesing het],” het Sitho gesê.

“Minister Bheki Cele doen ook niks rakende die boere se veiligheid nie. Die boere sal moet begin saamstaan, en ek is hier vir die boere.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wonder ·

Ek dink die lyntjie van geduld raak al hoe dunner, maar hoeveel boere moet eers vermoor word voor daai lyntjie breek. is hartseer.

Charles ·

Ek voel dat al gaan n moordenaar tronk toe gaan hy nog steeds wegkom met moord.

Nettie ·

Na al die jare wat Petrus Sitho bewusmaking doen, hoeveel van sy mense spreek hulself uit teen plaasmoorde? Of teen die sing van die lied?

Harley Davidson ·

Ek kan die naïewe houding van sekere wit mense nie verstaan ,die regering het verskeie wette gemaak om teen julle te diskrimineer oor die kleur van julle vel,hoekom sal hulle enigsins belangstel om julle andersins te help,kyk wat gebeur as ‘n wit vrou ‘n swart polisie beampte vloek.Die twee vroue wat gearresteer is toe hulle ‘n veedief wou arresteer 30 polisie en lede van die valke het opgedaag om hulle te arresteer, wat sê dit dan van gelykheid onder die wet?

Chris ·

Elke dag is ‘n dag nader aan die dag wat iemand gaan besluit, dit kan nie so voort gaan nie. Ek is bevrees die dag is dalk gouer as wat ons dink. Die enigste wet wat in Afrika geld is die wet van die burgery/gepeupel, Wanneer die owerheid in sy opdrag faal raak die mense kriewelrig en neem wet in eie hande. Hoeveel keer hoor mens van gemeenskappe wat die wet in eie hande neem? Dit is nader as wat ons dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.