Vier in hof ná meisies se ontvoering

Argieffoto.

Vier verdagtes het Woensdag in die Madadeni-landdroshof in KwaZulu-Natal verskyn in verband met die ontvoering van drie minderjarige meisies.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê Zamani Richard Ndlovu (32), Thamisaqa Sithebe (25), Sabatha Zulu (22) en Segundo Xulu (24) het Woensdag verskyn op aanklagte van kaping, ontvoering, mensehandel en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

Hul saak is uitgestel tot 29 Mei sodat hulle kan aansoek doen vir regshulp.

“Twee ander verdagtes, onderskeidelik 18 en 70 jaar oud, is vrygelaat aangesien hulle nie met die voorval verbind kon word nie.”

Mbhele het verduidelik dat hoewel daar aanvanklik net vyf verdagtes vasgetrek is, daar Dinsdag nóg een in hegtenis geneem is ná verdere ondersoek.

Mbhele het ook gesê hoewel daar Dinsdag berig is dat daar ʼn familielid en ʼn nabye familievriend onder dié is wat in hegtenis geneem is, het dit intussen aan die lig gekom dat die nabye familievriend as ʼn familielid geag word. “Die ‘familievriend’ en ‘familielid’ is dus dieselfde persoon,” het sy verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig die drie meisies, 6, 9 en 11 jaar oud, is Maandagmiddag met hul familie herenig nadat hulle vroeër die oggend ontvoer is.

Mbhele het gesê die kinders is omstreeks 06:45 in Madadeni ontvoer.

Kapt. Nagesh Moothilal, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê drie volwassenes en ses kinders was op pad in ʼn motor toe ʼn groep mans langs die pad vir die bestuurder gewuif het en probeer beduie het daar skort iets met een van die bande.

Die bestuurder het naby die Qaphelani-skool stilgehou om die bande na te gaan toe die verdagtes hom met vuurwapens gedreig het.

Moothilal het gesê die drie volwassenes en drie van die kinders het weggehardloop. Die kapers het toe met die drie kinders wat in die silwerkleurige BMW agtergebly het, weggejaag.

Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings in Newcastle, die honde-eenheid en speurders van Madadeni kon gistermiddag daarin slaag om die drie meisies uit ʼn huis in Iverness in Osizweni te red waar hulle deur die verdagtes aangehou is.

Die verdagtes het ʼn losprys van ʼn onbekende bedrag geëis in ruil vir die veilige terugbesorging van die kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.