Vier verdagtes het Vrydag in die Brits-landdroshof verskyn in verband met die raaiselagtige verdwyning van Joey en Anisha van Niekerk van Mooinooi in Noordwes.
Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie, het gesê Aaron Sithole (23), Koos Strydom (53), Alex Mudau (36) en ‘n vierde verdagte het vlugtig op aanklagte van moord, ontvoering, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg verskyn. Die saak is tot 5 Januarie 2018 uitgestel en al vier verdagtes sal in polisieaanhouding bly tot dan.
Die vierde verdagte se naam word weerhou omdat daar tans onsekerheid is of hy minderjarig is of nie.
Talane het gesê die polisie soek steeds onverpoosd na die twee vroue, maar die soektog het nog geen nuwe inligting opgelewer nie.
Maroela Media het vroeër berig Joey (32) en Anisha (30) is op 10 Desember omstreeks 07:30 vir die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Joey se pa is onlangs oorlede. Hulle was op pad na Pretoria om sy roudiens by te woon, maar is sedertdien nie weer gesien nie.
Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is Saterdagoggend in die Magaliesburg-omgewing gevind. Daar was egter geen teken van die vroue nie.
Tydens die verdagtes se inhegtenisneming is van die vroue se persoonlik besittings, waaronder hul bankkaarte, in die verdagtes se besit gevind.
Wynand van Niekerk (34), Anisha se broer, het vroeër die week aan Maroela Media gesê die familie klou vas aan elke greintjie hoop te midde van die spanning, onsekerheid en hartseer oor die Joey en Anisha. “Ons koester nie onrealistiese verwagtings nie en ons is ook nie naïef nie. Ons glo eenvoudig net op die oomblik dat God by magte is om dinge te doen wat vir ons onmoontlik is,” het hy gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
25 Kommentare
Vader, hou asseblief U hand oor ons mense, en help my om nie te haat nie, want dit is bitter moeilik !
Amen!
Ek weet ook nie hoe kom hulle by moord uit as hulle nog nie eers weet of die vrouens dood is nie. Hulle ondersoek die “verdwyning” van die 2 soos jy se weet hulle iets wat ons nie weet nie. Volgens die Polisie slaap hulle nie op die saak nie. Ek dink hulle moet liewers ‘n knap speurder op die saak kry. Die inligting wat ons as lesers kry ivm die saak is elke dag maar die selfde ek dink hulle draai net die sinne om, want van dag 1 af is die berig nog dieselfde. Kyknet ( herhaal kanaal)… Lees meer »
Asseblief God, staan hierdie familie by. By U is alles moontlik.
Die 4 ” verdagtes” is sekerlik al uit op R5-00 borgtog elk want shame hulle is altyd onskuldig.