Vier in hof ná Mooinooi-vroue se verdwyning

Joey van Niekerk en Anisha van Niekerk. Foto: Via Facebook

Vier verdagtes het Vrydag in die Brits-landdroshof verskyn in verband met die raaiselagtige verdwyning van Joey en Anisha van Niekerk van Mooinooi in Noordwes.

Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie, het gesê Aaron Sithole (23), Koos Strydom (53), Alex Mudau (36) en ‘n vierde verdagte het vlugtig op aanklagte van moord, ontvoering, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg verskyn. Die saak is tot 5 Januarie 2018 uitgestel en al vier verdagtes sal in polisieaanhouding bly tot dan.

Die vierde verdagte se naam word weerhou omdat daar tans onsekerheid is of hy minderjarig is of nie.

Talane het gesê die polisie soek steeds onverpoosd na die twee vroue, maar die soektog het nog geen nuwe inligting opgelewer nie.

Maroela Media het vroeër berig Joey (32) en Anisha (30) is op 10 Desember omstreeks 07:30 vir die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe woon. Joey se pa is onlangs oorlede. Hulle was op pad na Pretoria om sy roudiens by te woon, maar is sedertdien nie weer gesien nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is Saterdagoggend in die Magaliesburg-omgewing gevind. Daar was egter geen teken van die vroue nie.

Tydens die verdagtes se inhegtenisneming is van die vroue se persoonlik besittings, waaronder hul bankkaarte, in die verdagtes se besit gevind.

Wynand van Niekerk (34), Anisha se broer, het vroeër die week aan Maroela Media gesê die familie klou vas aan elke greintjie hoop te midde van die spanning, onsekerheid en hartseer oor die Joey en Anisha. “Ons koester nie onrealistiese verwagtings nie en ons is ook nie naïef nie. Ons glo eenvoudig net op die oomblik dat God by magte is om dinge te doen wat vir ons onmoontlik is,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

lizl ·

Vader, hou asseblief U hand oor ons mense, en help my om nie te haat nie, want dit is bitter moeilik !

Lientjie ·

Ek weet ook nie hoe kom hulle by moord uit as hulle nog nie eers weet of die vrouens dood is nie. Hulle ondersoek die “verdwyning” van die 2 soos jy se weet hulle iets wat ons nie weet nie. Volgens die Polisie slaap hulle nie op die saak nie. Ek dink hulle moet liewers ‘n knap speurder op die saak kry. Die inligting wat ons as lesers kry ivm die saak is elke dag maar die selfde ek dink hulle draai net die sinne om, want van dag 1 af is die berig nog dieselfde. Kyknet ( herhaal kanaal) Maroela media ( herhaal media )

Bossie ·

Asseblief God, staan hierdie familie by. By U is alles moontlik.

zoom zoom ·

Die 4 ” verdagtes” is sekerlik al uit op R5-00 borgtog elk want shame hulle is altyd onskuldig.

Pop ·

Wat se die verdagtes waar is die vrouens. Of is dit teen hulle mense regte om hulle te ondervra.

jan_alleman ·

gee my so paar uur met daai mense en ek sal die informasie uit hulle uit kry , al weet hulle nie eers waar die vroue hulle bevind nie

Santie ·

Lientjie …. jy stel voor dat n knap speurder aangestel word? Jy weet nie waarvan jy praat nie. Weet jy dat my broer sedert die verdwyning 24/7 werk … elkeen van die honderde leiddrade opvolg. ALMAL van hier in die omgewing tot wie weet waar. Sommige so belaglik. Hy sien nie sy familie nie en doen regtig sy beste. Ek dink jou voorstel is baie onregverdig.

Johan ·

@Lientjie, die wat so kritiseer kan dit self nie eers beter doen nie. Hulle het geen benul wat dit vat om n behoorlike ondersoek te doen nie. Die frustrasies daaraan verbonde. Hulle verwar realiteit met dit wat hulle op tv sien.

Ronell ·

Inderdaad Santie. Baie mense wil so graag hul naam iewers op sosiale media sien dat hulle nie eers omgee oor die twak wat hul kwytraak nie. Die meeste van hierdie bemoeisiekes het geen benul wat die regtig om hul aangaan nie.

Hennie ·

Santie, moet jou nie steur aan mense wat nie ‘n idee het hoe die ondersoek van sake werk nie. Sterkte aan die familie van die dames en die ondersoekers in die saak. Dieselfde persone met kritiek is die wat die minste doen en weet.

Andrea ·

Ai mense, Lientjie het seker maar aangeneem dat die persoon/persone verantwoordelik vir die ondersoek na die twee jong dames se verdwyning, nie juis bevoegd is nie. Aangesien daar nog geen inligting is oor wat met die twee dames gebeur het nie. Ons hoor van opgedonsde sake, lees daarvan op daaglikse basis. Ek glo sys net bekommerd en ontsteld. Moet ons Afrikaners mekaar altyd uitmekaar skeur? Is dit hoekom ons aan die onderpunt van voedselketting is?

Bossie ·

God, en staan ook Santie se broer, en almal wat onverpoosd soek, by. Dankie dat U hul die moed gee om elke dag voort te gaan…

Hans ·

Hierdie is nie ‘n tv soapie nie. Die ondersoek is in bekwame hande.

SS ·

Danksy Jackey Selebi bestaan die spesialiseenhede nie meer nie,die Moord en Roofeenheid sou hierdie saak al lankal opgelos het,daardie kundigheid is net nie meer daar nie. Tragies.

Marlene ·

Ons bid dat hierdie twee pragtige jongmense lewendig gevind word. Asseblief Here. ?

Koos ·

Did reg, hoe kan mens van moord aangekla word wanneer daar nie eers ‘n lyk is nie? Iets is nie pluis nie!

Ankie ·

Koos Strydom, 53 jarige blanke man… ‘n verdagte ~ dalk hom eerste ondervra?

madels ·

Ek kan nou wraggies NIE verstaan hoekom hulle nie die waarheid uit die 4 misdadigers kan kry nie.. hoekom dae, geld en tyd mors??? Magties man! Die mense WEET MOS waar hulle is???

LHS ·

Persoonlike besittings by hulle gekry, dan kan hulle seker mooi verduidelik waar hulle dit kry en sommer ook waar die meisies is. In die goeie ou dae sou hulle lankal die inligting uit die gemors gekry het.

Hannelie ·

Ek bid dat hul gevind word. Dankie aan die polisie wat nogsteeds onverpoosd soek en alle leidrade opvolg. Ek glo hul families waardeer dit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.