Vier in hof ná SAUK-rooftog

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Vier verdagtes verskyn na verwagting Maandag in die Johannesburg-landdroshof nadat hulle glo verlede week SAUK-joernaliste buite die Milpark-hospitaal in die stad beroof het.

Die verdagtes is Donderdagaand in hegtenis geneem.

“Twee van die verdagtes word positief verbind met die rooftog en twee mense is in hegtenis geneem nadat hulle glo van die gesteelde ware gekoop het,” het kol. Noxolo Kweza, woordvoerder van die polisie, vroeër gesê.

Die verslaggewers Vuyo Mvoko en Chriselda Lewis het Dinsdagaand gereedgemaak vir ʼn regstreekse uitsending om te berig oor die Zambiese president Edgar Lungu se aankoms by die hospitaal. Die kameras het reeds gerol en die gesigte van die verdagtes is duidelik sigbaar.

Volgens Mvoko het een van die mans hom met ʼn vuurwapen gedreig toe hy nie dadelik sy selfoon vir hulle wou gee nie. Die beeldmateriaal wys hoe twee mans hom dreig.

Volgens Kweza is nie een van die mense wat in hegtenis geneem is Suid-Afrikaners nie. Hy het gesê die beloning van R100 000 wat uitgeloof is, het die ondersoek baie gehelp.

“Ons versoek ook enige ander mense wat in die omgewing van Milpark-hospitaal beroof is om na vore te kom.” Hy het gesê dit is moontlik dat die eiendom waarop hulle by die verdagtes beslag gelê het aan ander slagoffers behoort.

Klik hier om alle vorige berigte oor die SAUK op Maroela Media te lees en die video van die voorval te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hein ·

Alhoewel ek dit verskriklik waardeer dat hierdie gemors van die strate af is, kan ek nie help om te wonder hoekom juis R100 000 beloning vir selfoondiewe in hierdie geval uitgereik is, terwyl daar soveel ander erger misdade gebeur maar geen belonings daarvoor uitgereik word nie. Is dit maar net omdat hierdie ’n internasionale verleentheid op YouTube was maar omdat die ander moorde, verkragtings en ander walglike dade nie vir die wêreld op die internet geadverteer kan word nie, is dit nie die moeite werd om opgelos te word nie?

Hendrik ·

Familie in Australie en NZ het die nuussnit gesien. Hulle wil nou nie eers meer die familie in die RSA kom besoek nie.

scalla ·

Nou wat soek die gemors hier as hul nie suid afrikaners is nie, die kameraspan gaan seker die R100000 ontvang, wat van die ander veel erger misdaad sake?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.