Christine Russouw (55) en haar twee kinders het Maandag saam met Ronald Swartz (24) in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn in verband met die moord op Petrus Scholtz (70).
Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die vier persone het vlugtig in die hof verskyn. “Hulle moet Vrydag weer in die hof verskyn waar die datum bepaal sal word wanneer hulle kan aansoek doen om borgtog. Hulle bly in aanhouding.”
Maroela Media het vroeër berig Swartz is verlede week Donderdag in Noordeinde in hegtenis geneem in verband met Scholtz se moord. Hy is Maandag as vierde beskuldigde bygevoeg in die hofsaak. Naidu kon nie bevestig dat Swartz betrokke was by die koop of verkoop van die vermoorde se bakkie nie.
Scholtz was ʼn elektrisiën en is op 17 Julie na Christine Russouw se huis ontbied vir herstelwerk. Hy is nie weer daarna gesien nie.
ʼn Verbyganger het die oggend van 19 Julie op sy liggaam afgekom waar dit in die bosse langs ʼn pad in Fairview gelê het. Sy hande en voete was met ʼn nylontou vasgebind en sy kop was met kleefplastiek bedek. Die polisie het in daardie stadium gesê hy is “gewelddadig aangerand”.
Polisiebeamptes het daarna Scholtz se blou Isuzu-dubbelkajuit-bakkie in Noordeinde opgespoor. Die polisie het ook reeds die meeste van Scholtz se gesteelde besittings teruggekry, insluitend sy gereedskap. Die bakkie is glo aan ʼn persoon in Noordeinde verkoop.
Russouw, haar dogter Chantal Russouw (34) en seun Wayne Russouw (31) is die volgende dag in Woltemadestraat in Kabegapark in hegtenis geneem in verband met die moord. Die ma en haar twee kinders het tydens hul eerste hofverskyning skuld ontken op alle aanklagte.
Naidu kon nie bevestig dat Wayne ʼn handbesering opgedoen en na ʼn hospitaal geneem is nie. Sy kon ook nie bevestig dat Christine en Chantal albei gedeeltelik doof is nie.
Lees alle vorige berigte oor Petrus Scholtz op Maroela Media.
Of dit nou Plaasmoord, Moord op bejaarde of Moord op ‘n kind, dit bly onaanvaarbaar.
Wanneer kry die drie borg?
Die samelewing se mense is siek hoe vind n mens rus as jy doodgemaak word al hoe n mens rus vind is in die HERE
En wat maak dit nou saak of hulle gedeeltelik doof is of nie?
ek wil net weet waar is al die mense wat so rassisme geskree het, moordenaars is moordenaars ongeag die ras of die rede
Bring terug die doodstraf.