Vier in hof oor Polokwane-moord

Hettie (links) en Lizette (regs) Deacon (Foto: Facebook)

Vier persone het Vrydag in die Polokwane-landdroshof verskyn op aanklag van die moord op ʼn Polokwane-sakevrou en haar ma.

Die beskuldigdes, Sophie Mmako (51), die Deacons se jare lange huiswerker, Lazarus Mahlo (41), Casper Mudau (35) en Advanced Amid (30) staan elkeen tereg op twee aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê die saak is tot 7 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek.

’n Beloning van R250 000 is Woensdag uitgeloof vir enigiemand met waardevolle inligting wat tot die inhegtenisneming van die uitstaande verdagte. Dié verdagte, genaamd Owen, word versoek om by die naaste polisiestasie aan te meld, want hy kan die polisie moontlik bystaan in die ondersoek. Owen, ʼn Zimbabwiër, gebruik een van die volgende vanne: Setsiba, Makutara of Mbedzi.

Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), se liggame is op 17 September die aand laat in hul motor langs die R37 by die Kushcke-afrit, buitekant Polokwane, gevind. Hulle is laatmiddag ontvoer nadat daar by hul meenthuis in Welgelegen ingebreek is. Albei vroue was vasgebind en het verskeie meswonde opgedoen.

Mense met meer inligting oor Owen kan lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 of sers. Phaladi Makola by 082 749 2233 nader of die polisie se misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

Lees alle vorige berigte oor die Polokwane-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Maak die R250 000 Twee Rand en Vyftig sent en die voorwaardes “effe verniel”….dis n BAIE beter gradering vir wat die gemors werd is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.