Vier in hof oor Vanstadensrus-plaasmoord

Gabriel Daniel Bruwer en sy vrou, Marian (Foto: Verskaf)

Vier persone het in die Wepener-landdroshof in die Vrystaat verskyn in verband met die moord op Gabriel Daniel (Choppie) Bruwer (78) en sy vrou, Marian (67), wat op 26 Junie 2018 op teregstellingswyse op hul plaas buite Vanstadensrus in die Vrystaat doodgeskiet is.

Sers. Sinah Mpakane, woordvoerder van die polisie, het gesê die vier verdagtes, Mzwandile Lande (31), Modiehi Makala (21), Lebohang Tladi (26) en Thato Mokoena (31) het Dinsdag in die hof verskyn op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom. “Die saak is tot 11 Julie uitgestel sodat hulle by twee ander verdagtes, Motlatsi Motsetse (20) en Tshediso Motankoba (26), in die hof kan aansluit.”

Motsetse en Motankoba is Saterdag in hegtenis geneem en het Maandag in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Lande, Makala, Tladi en Mokoena is Maandag in hegtenis geneem. Hulle word verbind met die voorval nadat polisiebeamptes twee vuurwapens, ammunisie, selfone, juwele, ʼn skootrekenaar en ander items, wat vermoedelik aan die egpaar behoort het, in hul besit gevind is.

Sers. Mosili Ntsika, woordvoerder van die polisie, het gesê konst. Mosala Mositoane van die Vanstadensrus-speurdiens en sy span het onverpoosd gewerk om die verdagtes op te spoor.

Die Bruwer-egpaar se liggame is in hul plaashuis aangetref. Gerhardus Jacobus Bruwer (48), Gabriel se enigste kind en ʼn boer van Zastron, het vroeër aan Maroela Media gesê sy pa en stiefma was met ʼn elektriese koord om hul lywe en uiesakkies aan hul hande aan die stoele vasgebind voordat komberse oor hulle gegooi en albei agter hul ore geskiet is. ʼn Kussing is as knaldemper gebruik alvorens sowel Gabriel as Marian geskiet is.

Die aanvallers het met die egpaar se voertuig, ʼn silwer Chevrolet Spark, op die vlug geslaan. Die voertuig is later die dag by die sportterrein in Wepener, naby die grens van Lesotho, verlate gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.