Vier in hof oor veediefstal in Vrystaat

Die vier verdagtes is op 12 Oktober in hegtenis geneem. (Foto: Verskaf)

Vier verdagtes sal vandeesweek weer in die Wesselsbron-landdroshof in die Vrystaat verskyn op aanklagte van gewapende roof en veediefstal nadat hul na bewering vroeër vandeesmaand 11 skape op ’n plaas in dié omgewing gesteel het.

Bongane Mokoena (27), Mtata Janki (37), Lerato Swarts (29) en Mohlabane Lehlonolo (31) het reeds Vrydag vir die eerste keer in die hof verskyn. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle glo in die begin van Oktober ’n sekuriteitswag op die plaas Nuweaanlig naby Wesselsbron oorval en met ’n vuurwapen gedreig het waarna hulle ook die wag se selfoon gesteel het.

Die aanvallers het tydens dié voorval 11 skape gesteel.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê dat die verdagtes op 10 Oktober in hegtenis geneem is nadat die polisie in Welkom ’n wenk oor die gesteelde skape ontvang het.

Volgens Thakeng het dié wenk die polisie reguit na ’n huis op Monyakeng, Wesselsbron, gelei. Polisiebeamptes, insluitend lede van die Odendaalsrus se veediefstal‑eenheid, het by dié huis gaan aanklop waar hulle op 11 skaapkarkasse afgekom het. Die vier verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem.

Genl.maj. Lerato Molale, bevelvoerder van die Welkom-polisiegroepering, het die polisie bedank vir die rol wat hulle gespeel het om die verdagtes vas te trek. Volgens Molale wys die feit dat die gemeenskap inligting aan die polisie deurgegee het daarop dat inwoners siek en sat is vir kriminele aktiwiteite wat in hul gemeenskappe plaasvind.

Die verdagtes sal na verwagting met hul volgende hofverskyning om borgtog aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willie Gouws ·

Die verdagtes sal waarskynlik met hulle vlg hofverskyning om borgtog aansoek doen en dan is dit die laaste sien van die blikkantien . Daarna word die vlg plaas geteiken .

Mrs H ·

Aai tog, en die nuwe minister van finansies gaan dalk die btw weer opstoot. Meer armoede – meer kriminele aktiwiteit. Maar wie het nou gehoop die regering kan vooruit voorspel met hul besluite en aksies? Brandstof mag weer duurder wees volgende maand… Sal hulle tevrede wees met slaaiblare en die skapies met rus laat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.