Vier in hof wat Taxify-bestuurder glo ontvoer

(Foto: Verskaf)

Vier verdagtes het Woensdag in die Pretoria-landdroshof in Gauteng verskyn nadat hulle glo Sondag ’n taxibestuurder van die vervoermaatskappy, Taxify, ontvoer en beroof het.

Kapt. Augustinah Selepe, polisiewoordvoerder, het Woensdagmiddag aan Maroela Media gesê die taxibestuurder was Sondag op pad om ’n kliënt in die Pretoriase middestad op te laai toe hy deur vier verdagtes voorgekeer is. Die verdagtes, onder wie ’n taxi-parkeerjoggie, het die pad versper waarna hulle glo hulself in die taxi ingedwing het toe die voertuig tot stilstand kom.

Volgens Selepe het die verdagtes glo met die taxibestuurder steeds in die voertuig weggery en geld as losprys geëis. Hulle het gesê indien die bestuurder weier om te betaal, sou hulle hom nie vrylaat nie. Die bestuurder het later bes gegee en die geld betaal waarna hy vrygelaat is en die verdagtes met die geld op die vlug geslaan het.

Die verdagtes, tussen 24 en 55 jaar oud, is Maandag tydens ’n klopjag vasgetrek.

Selepe kon nie in dié stadium die presiese bedrag van die losprys bevestig nie aangesien dit die ondersoek moontlik kan belemmer.

“Na aanleiding van dié klopjag [waartydens die verdagtes vasgetrek is], is die polisie optimisties dat misdade binne die vervoerdiens soos Uber en Taxify asook die taxibedryf gaandeweg stabiliseer,” sê Selepe.

Die taxibestuurder kon daarin slaag om die verdagtes intussen uit te ken waarna hulle vlugtig in die hof op aanklagte van ontvoering en roof verskyn het. Die saak is tot 17 Oktober uitgestel. Die verdagtes bly in aanhouding tot dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andrea ·

Taxi-parkeerjoggie… Daar leer ek n nuwe woord. Ek neem aan dis die mense wat vir jou wys op watter van die 17 oop parkeerplekke jy kan parkeer. En dan vir jou help om agteruit te trek as jy weer wil ry reg voor aankomemde verkeer in? Ek dog mens noem hulle ‘irritasies’.

Cherokee ·

Netjiese beskrywing van een van die irritasies. Want dan verder irriteer, is die motorbestuurder wat nie in die parkeerplek die fooi betaal nie maar reg voor jou op die ryvlak stilhou en terwyl jy ook moet stilhou, die venster afdraai en daar op die ryvlak die fooi betaal voor hy ry. Seker bang die karwag loop weg sonder om hom te beduie hoe om uit te ry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.