Vier in Kaap vasgetrek vir onwettige besit van vuurwapens

Een van die ,38-rewolwer waarop beslag gelê is (Foto: SAPD)

Lede van die Wes-Kaapse polisie verbonde aan die Bishop Lavis- en Brackenfell-gebied is geprys vir hul vinnige reaksie wat gelei het tot die inhegtenisneming van vier mense wat in die onwettige besit van vuurwapens gevind is.

Kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die vier verdagtes is in twee afsonderlike gevalle vir dieselfde oortreding vasgetrek.

In die eerste voorval het polisielede verbonde aan die Bishop Lavis-misdaadvoorkomingseenheid die Kalksteenfontein-omgewing gepatrolleer toe hulle op ʼn verdagte afgekom het wat glo kop in een mus met die plaaslike bende is.

“Toe beamptes die 29-jarige man begin deursoek, is hy in besit van ʼn .38- spesiale rewolwer en nege patrone gevind,” het Traut gesê.

Die man is daarna in hegtenis geneem en sal na verwagting in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.

‘n 38.-rewolwer wat in ‘n aparte voorval gekonfiskeer is (Foto: SAPD)

In ʼn ander afsonderlike voorval het lede verbonde aan die Wes-Kaapse blitspatrollie inligting ontvang oor ʼn verdagte voertuig in Brackenfell en ʼn soektog is dadelik in die omgewing van stapel gestuur.

Hulle het ʼn swart Mercedes-Benz-voertuig gewaar en afgetrek.

“Drie verdagtes, tussen 28, 37 en 39 jaar oud, is binne die voertuig gevind. Toe die polisie die voertuig deursoek, het hulle op ʼn .38- spesiale rewolwer sonder ʼn reeksnommer en patrone afgekom en daarop beslag gelê.”

Die verdagtes is daarna in hegtenis geneem en sal na verwagting Woensdag in die Blue Downs-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.