Vier in klapmusse oorval egpaar op plaas

plaashek-pexels

(Argieffoto: Pexels)

ʼn Egpaar is Donderdag op hul plaas digby die Hankey-omgewing in die Oos-Kaap deur vier gewapende mans oorval en beroof. Dit is die tweede plaasaanval wat die afgelope week in die Hankey-gebied aangemeld is.

Volgens die polisie het die verdagtes ʼn vuurwapen op die egpaar, onderskeidelik 56 en 60 jaar oud, gerig en hulle daarna met elektriese kabels vasgemaak.

“Die verdagtes het ʼn kluis in die huis oopgemaak en ʼn vuurwapen en ʼn onbekende getal patrone daaruit gesteel. Hulle het ook juwele, twee televisiestelle, ʼn skootrekenaar, selfone en drank gebuit. Hulle het daarna gevlug,” lui ʼn verklaring van die polisie.

Die egpaar het ʼn uur ná die verdagtes gevlug het, daarin geslaag om hulself los te wikkel en kon alarm maak.

“Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, kan die ondersoekbeampte, kapt. Trevor Engelbrecht by 082 441 7735 skakel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 kontak.”

Bobby Stevenson, DA-lid van die Oos-Kaapse wetgewer, sê die twee aanvalle wat kort na mekaar in die Hankey-omgewing afgespeel het, beklemtoon die kwesbaarheid van die boeregemeenskap in die Oos-Kaap.

“Ek spreek voortdurend die kwessie van landelike veiligheid aan by die beraad oor landelike veiligheid in die Oos-Kaap. Gereelde plaasaanvalle soos hierdie kan ‘n katastrofiese impak op landelike veiligheid en die lewensvatbaarheid van die landbousektor in die provinsie hê,” het Stevenson bygevoeg.

Hy stel die volgende stappe voor om die landelike veiligheid in die provinsie te verbeter:

  • Stig gespesialiseerde eenhede wat hulle daarop toespits om landelike gemeenskappe te beskerm.
  • Werp meer lig op die navorsing en statistieke rondom plaasaanvalle.
  • Die polisie moet hul ondersoek- en misdaadintelligensievermoë in landelike gebiede verhoog, deur onder meer alle beskikbare tegnologie (soos hommeltuie) in te span om oortreders op te spoor.
  • Plaasaanvalle moet as prioriteitsmisdade geklassifiseer word. Sodoende sal die polisie ook meer hulpbronne inspan om die misdaad aan te spreek.
  • Maatreëls wat belastingverligting vir diegene in landelike gebiede bied, moet ingestel word. Dit sluit in boere wat private veiligheidsmaatskappye huur, asook subsidies betaal vir plaaspatrollies, plaaswagte en maatskappye wat veiligheid in landelike gemeenskappe bied.
  • Grensveiligheid moet opgeskerp word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Wil ‘n vraag vra? Daar is baie mense, vrouens en mans wat miskien nie ‘n werk het met die verwoesting wat Covid gesaai het, en dan ook baie mense wat afgetree is. Ek het in die mag met baie verskillende geweere geskiet, en sal my nie lank wat om op datum te kom nie. Ek is nie bang om ‘n geweer te hanteer nie, en ek is seker daar is baie ander in die land wat kan skiet. Hoe kan gehelp word om plase, die boer, en die gesinne veilig te hou?

Persheks Adri ·

Cele waar is jou uniforms om ons boere op te pas? Jy’t die vermetelheid om ons te wil ontwapen, maar kan nie eers jou werk doen nie pateet! Polisie kan net sowel ontbind word die goed beteken niks

Marthinus ·

Ek stem…..sonder polisie kan ZAR miljoene jaarliks bespaar.Polisie gaan tog nie hulle bekwaamheid op plase verskerp nie

Persheks Adri ·

Hulle gaan sommer glad nie hulle bekwaamheid enigsins verskerp nie Marthinus. Dis om van naar te raak. Ek mis ons kommando’s!

Tiptol ·

Die staat moet ten volle vir sekuriteit op plase betaal. Sekuriteit wat privaat mense moet aanstel is belaglik. Cele ons betaal julle salaris maar kry niks daaruit nie.

Danie ·

Al wat sal help is n privaat sekuriteitsmag in die kleine wat op elke plaas ontplooi word.
En dit sal nie gebeur nie want dit kos te veel geld vir die boer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.