Vier in Pta met petrolbomme betrap

Argieffoto

Argieffoto

Vier mans is Woensdagmiddag in die noorde van Pretoria in hegtenis geneem nadat petrolbomme in hul besit gevind is.

Kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng, het Donderdag aan Maroela Media gesê beamptes van die Sinoville-polisiestasie was besig met roetinepatrollie in die gebied toe hulle ʼn verdagte voertuig opgespoor het wat glo ʼn petroltenkwa in Sefako Makgatho- (Zambesi-) rylaan agtervolg het.

Die polisie het die voertuig van die pad af getrek, waarna een insittende uitgespring en weggehardloop het.

Die polisie het die voertuig deursoek en op vier petrolbomme afgekom. Die mans is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van petrolbomme. Die man wat gevlug het, is later met die hulp van die gemeenskap vasgetrek en in hegtenis geneem.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

Die vermoede bestaan dat die mans glo te midde van die landwye staking in die petroleumbedryf ʼn petroltenkwa wou opblaas. Makhubele kon dit egter nie bevestig nie. Hy het gesê ondersoek word wel ingestel om te bepaal waarheen die mans op pad was en wat hul teiken was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kleintjie ·

Kan dit dalk met die verkiesing verband hou? Dat die tenkwa gevolg is en dat daar op ‘n baie strategiese punt ‘n ontploffing sou wees.

Bruno Stef ·

Dit moet seker lees ” die Sinoville Polisiestasie” in pleks van die Sinvolle Polisiestasie.

Landi Slatter ·

Dagsê Bruno,

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig en wysig die berig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Cherokee ·

Bruno, eintlik behoort dit ‘Sinvolle Polisiestasie’ te lees hierdie keer in ag genome hul sinvolle aksie toe vier aspirant-petrolbommers gearresteer is.

Heleen ·

Sinoville Polisie is raakvatters. Saam met die plaaslike GPF doen hulle uitstekende werk.

Daleen Prinsloo ·

Die Sinoville SAPD is baie in die nuus met hulle goeie werk. Ek het ‘n baie hoë dunk van die Polisie vandat Sinoville my so baie begin beindruk het. Doen so voort Manne (En Vrouens), julle maak ons trots.

Joe ·

Stem saam, ek bly in Sinoville, en is baie trots en dankbaar vir Sinoville polisiestasie, hulle reageer feitlik 100% op klagtes.

Tiger ·

Die mans is almal terroriste en hoort GEEN borg te kry nie.Maar met die huidige stand van sake in die land se howe sal hulle seker op R100 elk vrygelaat word en later mooi gevra word deur die hof om “dit nou nie weer te doen nie”!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.