Vier in sop na jokkery oor wie tydens ongeluk bestuur

Ralf Baleseng Mabunele wie glo die motor bestuur het. (Foto: Verskaf)

Vier verdagtes, onder wie ’n oudpolisieman, is in hegtenis geneem nadat daar glo gejok is oor wie bestuur het toe ’n motor meer as drie jaar gelede in Mpumalanga omgeslaan het.

’n Ondersoek het nou aan die lig gebring dat die jong bestuurder van die motor nié oor ’n bestuurslisensie beskik het ten tyde van die ongeluk nie en dat valse verklarings destyds afgelê is.

Die ma van die regte bestuurder het na bewering ’n ander persoon oorreed om te maak of hý die motor bestuur het terwyl ’n nou afgetrede polisiebeampte daarvan beskuldig word dat hy gehelp het om die feite oor die ware bestuurder te verdoesel.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê ’n wit Volkswagen Polo het in Augustus 2018 op die R532 tussen Hlabekisa en Matibidi met vyf insittendes omgeslaan.

Drie vroue en twee mans is ernstig in die voorval beseer en ’n saak van roekelose en nalatige bestuur is by die polisie aanhangig gemaak.

Die saak is egter later na die Valke oorgeplaas, wat vasgestel het dat die jong Ralf Baleseng Mabunele (nou 22) die motor bestuur het ten tyde van die ongeluk.

Sy ma, Makabateng Sylvia Mohlala (50), en Shibu Neclous Mabiloane (44) het egter saamgespan en laasgenoemde het aangevoer dat hy die motor bestuur het. Dít terwyl Mabiloane nie in of selfs naby die motor was toe dit omgeslaan het nie.

Hulle het na die betrokke polisiestasie gegaan en verder die stasiebevelvoerder, Malamba Frans Khoza (60), by die sameswering betrek. Hy het glo met die registers gepeuter en die inligting van die regte bestuurder sonder ’n lisensie met dié van Mabiloane vervang.

’n Ondersoek het eindelik die verdagtes met die misdaad verbind en die saak is na die direkteur van openbare vervolging gestuur vir ʼn beslissing. ’n Lasbrief vir die verdagtes is uitgereik en hulle is Dinsdag in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog en korrupsie.

Die verdagtes het sedertdien in die Dientjie-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie voordat hulle borgtog van R10 000 elk toegestaan is.

Die saak is nou tot Februarie uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Gert ·

Gelukkig het hulle hulle self verniel en nie ander mense nie

Pampoen ·

Die woord jok hou eintlik verband met stout kinders. Die mense lieg en dit is bedrog. Ek het al dikwels teegekom dat selfs ons eie mense lieg oor n ongeluk of n versekeringseis. Dit is nou die geleentheid vir ons almal om te besef dat dit nie die moeite werd is nie. Praat maar eerder die waarheid.

Shakespeare ·

3 jaar ??? 3 jaar ??? 3 jaar ??? Red ‘n nasie met so ‘n regstelsel.

Herman ·

Ek sien sy behoort aan die Zoeloe country club. Ek wonder hoe voel hulle daaroor?

Elinette ·

Behoorlike ondersoeke vat tyd. Ten minste was daar in hierdie geval ‘n speurder wat snuf in die neus gekry het en nie net 9-4 in sy diep leunstoel, voete op die lessenaar gesit en slaap het nie!

Nico ·

Die sogenaamde regstel moet verduidelik hoekom hierdie saak al vir 3 jaar snoer, gaan die saak aanhoudend uitgestel word tot die dosier verdwyn het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.