Vier in taxibedryf al dié maand vermoor

(Argieffoto: Courtney Africa/ANA)

Minstens vier mense in die taxi-bedryf is die afgelope maand in Mpumalanga vermoor.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê in die jongste voorval is ʼn 44-jarige man Maandag in Nkangala by die Kwamhlanga-kruising doodgeskiet. Jeremia Nkosinathi Chabangu, ʼn taxibestuurder, het omstreeks 17:30 in ʼn Mercedes Benz-minibussie gesit toe ʼn groep gewapende mans in ʼn wit Volkswagen Golf 7 op hom losgebrand het.

Chabangu is verskeie kere getref, waarna die aanvallers in die rigting van Pretoria gevlug het.

Hy is op die toneel dood verklaar.

“Die motief vir die moord is in hierdie stadium onbekend,” het Hlathi gesê.

Omstreeks 20:30 was ʼn 65-jarige man die slagoffer van ʼn tweede skietery by Boekenhouthoek, naby Kwaggafontein. Volgens die polisie se inligting is twee mans met klapmusse by Piet Mahlangu se huis in waar die man en sy vrou TV sit en kyk het.

Die twee aanvallers, wat glo in ʼn wit Toyota Quantum gery het, het deur die oop kombuisdeur ingekom en verskeie skote geskiet.

Die man is verskeie kere getref. Sy vrou het ligte beserings aan haar been opgedoen.

Die polisie het nie besonderhede verskaf oor die aard van Mahlangu se bande met die taxibedryf nie.

Op 7 Maart is Kenny Sipho Mahlangu (31), ʼn taxibestuurder, in Tweefontein doodgeskiet. Mahlangu het in ʼn bakkie gery toe hy aangeval is. Volgens Hlathi het ʼn Toyota Run-X Mahlangu op dié dag agtervolg toe hy doodgeskiet is.

France Oupa Manamela, ʼn beampte by die Tweefontein-taxistaanplek, is net enkele dae tevore, op 1 Maart, ook doodgeskiet.

Hlathi sê die polisie het inligting oor ʼn skietery by die staanplek ontvang en Manamela in ʼn plas bloed met verskeie skietwonde aangetref. Vier mense in ʼn silwerkleurige Volkswagen Polo het glo op hom losgebrand en daarna weggejaag.

Op dieselfde dag as die moord op Manamela is ʼn man in ʼn taxipatrollievoertuig op die Molotopad, naby Kwamhlanga, gewond toe daar ook op hom losgebrand is.

Hlathi sê die polisie in die provinsie het ʼn reusesoektog na die aanvallers van stapel gestuur. Hy het nie aangedui of die polisie die aanvalle in hierdie stadium met mekaar verbind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Is so ja, soek meer aandag op plaasmoorde ook. Alle nuus media. MM doen al n goeie werk.

MakersMark ·

Taxibedryf word deur ‘n mafia ekwivalent bedryf en selfde modus operandi geld.

ES ·

Misky, ek sien hulle gereeld. Elke taxi-organisasie het so ‘n ou karretjie met hul organisie se logo ens op en diegene stop ander taxi-organisasies se taxis wat op hul roete ry en beboet hulle (onwettig natuurlik) of vra vir omkoopgeld. Soos MakersMark beweer – hulle bedryf die taxi-organisasies soos ‘n mafia ekwivalent.

Magda ·

en wat van al die onkuldige mense wat deur Taxi bestuurders en ook hulle Eienaars se dood veroorsaak is, is daai Taxi bestuurders / Eienaars al aangekla vir “Moord” want as jy n Taxi bestuur is , is jy verantwoordelik vir daai mense in jou Taxi, as jy onverskillig ry en “JY” veroorsaak onskuldige mense se dood, moet JY (bestuurder) en Taxi Eienaar aangekla word van Moord, want jy het geweet as jy so ry kan iemand dalk verongeluk, dit is net soos om n Moord te beplan, is daai mense al aangekla?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.