Vier jaar ná ongeluk by oord veg pa voort

Aiden du Toit is in November 2017 by die ZambiBush-oord dood. (Foto: Verskaf)

“Waar trek ʼn mens die lyn? Wanneer hou jy op om geregtigheid vir jou kind te soek?”

Dít is die vrae waarmee ʼn moedelose Deon du Toit vier jaar ná die dood van sy seun, Aiden (10), steeds worstel.

Aiden is op 29 November 2017 by die ZambiBush-waterpark in die noorde van Pretoria dood nadat hy sy kop op ʼn waterglybaan gestamp het.

Du Toit is al die afgelope vier jaar met sy eie ondersoek na die voorval en oord besig, en sê hy het voldoende bewyse dat ZambiBush onwettig bedryf word.

ZambiBush het intussen aanmaningsbriewe aan Du Toit en sy vrou, Elna, gestuur waarin die eienaars van die oord R15 miljoen vir naamskending by elk eis.

Die egpaar word ook met dagvaarding gedreig sou dié geld nie vandeesweek betaal word nie.

ZambiBush se eienaars hou voet by stuk dat die oord veilig is. “Ons kliënt het nog altyd op rekord geplaas dat al die nodige veiligheidsmaatreëls getref is by die oord. ʼn Onafhanklike assessor beoordeel ook jaarliks die veiligheidstandaarde by die oord vir versekeringsdoeleindes,” lui die oord se antwoord via hul regsverteenwoordigers aan Maroela Media.

Du Toit staan egter by sy standpunt dat die park ʼn gevaar vir ander kinders inhou en gesluit behoort te word.

“Ek sit met ʼn berg van bewyse, maar tot vandag toe het ek nog nie eers een keer in ʼn hof gestaan om my saak te stel nie. Dit voel of ek teen ʼn storm baklei. Daar is werklik nie ʼn klip wat ek nog nie omgedraai het nie.

Du Toit sê egter hy is liggaamlik en geestelik uitgeput. “Ek het altyd in ons land se regstelsel geglo, maar het al my vertroue daarin verloor.”

ʼn Opdraande stryd

Hy het oor die afgelope jare nagenoeg tien beëdigde verklarings met behulp van ʼn speurder bekom, maar dít val ook op dowe ore.

Die verklarings is onder andere deur ouers wie se kinders glo by dié park beseer is, afgelê.

Dít, sê Du Toit, is maar net die oortjies van die seekoei.

Volgens hom kry hy egter min tot geen ondersteuning van die polisie en ander rolspelers in die regstelsel nie.

Die Tswhane-metro het in Februarie 2019 ʼn aansoek in die hooggeregshof gebring om die oord te laat sluit, omdat die twee persele waarop ZambiBush bedryf word, slegs vir landboudoeleindes gesoneer is en nié om as ontspanningsoord te bedryf nie. Die saak sou in April dieselfde jaar aangehoor word.

Deon du Toit blaai deur ’n fotoboek van sy seun, Aiden. (Foto: Mariska Nanni)

Maroela Media het ʼn navraag aan die metroraad gerig oor wat die uitkoms van dié saak was, maar nog nie terugvoer daaroor ontvang nie.

Du Toit vergelyk Aiden se saak met dié van die 13-jarige Enock Mpianzi, wat in Januarie 2020 op ʼn skoolkamp verdrink het.

“Hierdie saak is binne ʼn jaar en ʼn half afgehandel en mense moes verantwoording doen vir wat gebeur het. Hoekom wag ek al vier jaar vir geregtigheid?

“Dit gaan ook nie net oor Aiden se dood nie, maar ook dié van Bohlale Mokoena en die talle ander kinders wat al by hierdie oord beseer is.”

Bohlale se liggaam is twee maande voor Aiden se dood in een van die swembaddens by ZambiBush aangetref – ʼn dag nadat hy as vermis aangemeld is.

Bohlale se ma, Maggie, het destyds aan Maroela Media gesê haar kind se dood is steeds onverklaarbaar.

“Ek het altyd gewonder waarom hierdie mense [Bohlale se gesin en ander ouers] hul onderskeie sake nie verder voer nie, maar nou verstaan ek,” sê Du Toit.

“Jy probeer en probeer, maar loop jou teen ʼn muur vas. Boonop het baie mense nie die geld om sake verder te dryf nie. As ek wat ʼn sakeman is nie eers kan bybly nie, hoe moet iemand wat nie eens geld op hulle foon het nie, vir regskostes betaal?”

Du Toit sê hy het reeds honderde duisende rande aan regskoste bestee.

Nooit weer dieselfde nie

Benewens die finansiële tol wat Du Toit se soeke na geregtigheid op sy gesin eis, sê hy dat hulle emosioneel baie swaarkry.

“Ná die dood van ʼn kind sal jy nooit weer die mens wees wat jy voorheen was nie. Jou gesin sal ook nooit weer dieselfde wees nie.

Aiden du Toit. (Foto: Verskaf.)

“Boonop kan jy nooit die rouproses afhandel as jy voortdurend op afsluiting wag nie.

“Ek weet ek moet iewers die lyn trek, want ek neem ook weg van my gesin deur so baie geld en tyd in hierdie saak te ploeg.

“Maar as ek opgee, sal dit voel asof ek op my kind opgee. Ek wil nie eendag op my stoep sit en voel ek het my kind gefaal nie.”

Latham Dixon, Du Toit se regsverteenwoordiger, sê hulle sal nie opgee tot die geregtelike ondersoek deeglik afgehandel is nie.

Die eienaars van ZambiBush het by verdere navraag aan Maroela Media gesê hulle is bewus van al die klagtes, maar kan hangende die litigasie nie in dié stadium breedvoerig daaroor uitwei nie. Die eienaars het wel erken dat hulle ʼn siviele eis teen Du Toit en sy vrou ingestel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Perdeby ·

Mense moet leer om verantwoordelikheid vir hulle eie kinders te vat. Moenie altyd die souls vir iemand anders gee nie. Ek glo by die hek is daar n bord wat se jy is op eie verantwoordelkheid daar. Geld gaan nie jou kind terug bring nie.

Flip ·

Dit is voor die hand liggend dat geld geen kewe kan terugbting nie. Wat wel n probleem is, is dat daar mense is wat dink n bordjie met n paar vrywarings woorde daarop maak dat jy kan optree soos jy wil. So as n vliegtuig val omdat dit nie onderhou word nie moet almal maar net aanvaar dis hoe dit is? Snert man! Wie sê die man soek geld? Klink vir my meer of hy wil verseker dat dit nie weer met n ander kind gebeur nie. Daar behoort oordentlik ondersoek ingestel word om te bepaal of alles moontlik gedoen word om kinders se veiligheid te verseker.

Deon ·

As die oord onveilig is(lw ek is nie seker wat die oord se veiligheid aan betref nie) dan kan n bordjie nie die oord verontskuldig nie…. Ek stem saam, pas jou kinders op, party kleintjies is superman, spiderman en batman in een lyfie.

Harley Davidson ·

Daardie bord is soos om ‘n vrywarings vorm te teken by n dokter voor n operasie null en void sou daar nalatigheid bewys kan word.

ONTPS ·

Toetie, ek dink jy sou moontlik anders gevoel het as dit jou kind was wat gesterf het by die park

Perdevy ·

Verstommend. Jy gaan na ‘n waterpark met glybane en dink NIKS gaan ooit verkeerd loop nie. Hierdie du Toit persoon soek uitsluitsel op die verkeerde plek.

Hardekwas ·

Mense behoort dié oord eerder te vermy tot tyd en wyl uitsluitsel oor die veiligheid al dan nie daarvan bepaal is.

Deon ·

Dit is n hartseer ding…. As daar so baie ernstige beserings is dan moet daarna gekyk word om te sien wat is fout daar…. Is die ontwerp van die speelgoed soos glybane en so meer deur die regte owerhede goed gekeur? Is daar lewens redders vir swembaddens? Watter “noodplanne” is in plek daar? Is die betuurders van hierdie plek bevoeg om noodplanne uit te voer? Ek is nie 100 persent seker wat daar gebeur het nie maar as n kind sy kop op n glybaan kan stamp en sy lewe daardeur verloor, wat is die kanse dat dit weer kan gebeur? Waarom wil die oord nie kommentaar in die media gee nie? Sterkte met jou stryd en mag jy die antwoorde kry wat jy nodig het.

Toetsie ·

So, as jy n motorongeluk het, gaan jy die paaie administrasie jag of die motorhandelaar blameer?? Ongelukke gebeur oral – fratsongelukke ook! Jy gebruik ALTYD sulke fassiliteite op eie risiko. Hierdie is n heksejag om iemand te blameer vir die fratsongeluk!

Harley Davidson ·

Dit is totaal onaanvaarbaar, as daar ‘n moontlikheid is dat iemand beseer of selfs gedood kan word weens onveilige plekke wat die publiek toegang gee teen vergoeding is die metro verantwoordelik om ‘n risiko assessering te doen.Die metro kan verantwoordelik gehou word indien hulle nie die klagte ondersoek en iemand beseer of gedood word.Ek sou die gemeenskap ,raadslid en media betrokke maak in die proses.

007 ·

Jy stuur jou kind op eie risiko daarheen. As daar gereel mense dood of beseer word dan eers kan jy sê dis onveilig. Maar om te sê die oord is onwettig deel jy daarin die oomblik as jy die perseel betree. Jammer vir die seun maar dink die pa moet dit laat vaar en aangaan met sy lewe hoe moeilik dit ook al mag wees. Jou seun is ongelukkig weg en jy gaan niks daaraan kan doen nie.

OW ·

Die Tshwane Metro sleep beslis voete in hierdie saak aangesien hulle nie antwoord of daar ‘n goedgekeurde hersonerings aansoek ingedien en goeggekeur is tesame met die nodige toestemmingsgebruike vir die perseel nie.Dit vat nie solank om vas te stel of dit wel die geval is nie.Indien goedkeuring bestaan of nie bestaan nie, moet die klaer se regspersoon met die Metro se regsafdeling beraadslaag oor die nodige regte.Indien geen regte bestaan nie het die klaer ‘n sterk saak.

Ronel ·

Cheetah, regtig?!!!!!! Tot jy ‘n kind verloor in so ‘n ongeluk. En hy is nie die enigste kind nie. Ek dink jy is bietjie ongevoelig.

Pablo ·

As jy weet n plek is onveilig moet jy nie daarvan gebruik maak nie.

Hardekwas ·

Hoe sal jy weet dit is onveilig as niemand jou inlig nie?

Mallie ·

Meneer du Toit dit is jammer van jou kind, maar dink jy nie jy is bietjie belaglik nie. N ongeluk is n ongeluk.

Harley Davidson ·

Maak die plek toe en sorg dat alle veiligheid maatreëls in plek is en soneer hom by die metro daarna open jy ‘n plek waar kinders toegelaat word en sou daar dan iets gebeur kan dit ‘n ongeluk genoem word.

Phillip ·

My probleem is. Soos die man se n kind wat inwettig op n toer gegaan het. Geen onderwyser het sy naam op dienlys gehad niem hy het lae profile gehou want hy is onwettig daar. En verdrink. Toe breek dienhel los en hoof en onderwyrs moet pa staan vir n kind wat hulle nie eens geweet het was daar nie. Wat eerste plek nie sou verdri k het as hy nie daar was nie. Hier is die hoeveelste kind al dood. En geen department sluit die plek vir ondersoek nie. Ek weet mense moet geld maak maar met n tweede sterfte nee komaan. Waar is die Gerrie Nels en aksie groepem as dit eff was was daar oproer voor daai plek darem een ding wat ons van hulle kan se. Miskien moet die pa Julius Nader vir hulp synde N swart kind ook daar verdrink het. Se maar net

Johan ·

Niks wat jy doen kan jou kind uit die dood terugbring nie. Maak vrede, hou op om hul aan te val en probeer skik oor die R15m! So gou as moontlik. Dis maar my raad, baie jammer vir almal betrokke oor die trauma.

Sarel ·

Die Ouers het reeds alles verloor nou lom ” Goliat” en wil hulle verder vernietig. Aan die Ouers my simpatie maar die ” baklei” gaan u vernietig en nie u seun terug bring nie.

Toetsie ·

Sulke plekke is altyd op eie risiko en hoewel ek jammer is vir elke ouer wat n kind verloor, is dit nie die weg om te gaan nie! Ongelukke gebeur en dit is (soos aan die begin deur die pa by verskeie geleenthede genoem) nie die oord se veiligheid of skuld nie! Waar was jý die pa toe jou kind afgegly het? Is jou kind se veiligheid in jou as ouer en God se hande of in die hande van vreemdelinge??? Nee meneer, al is dit n vreeslike groot verlies en hartseer, ék dink jy is onnodig in jou heksejag en soek net iets of iemand anders om te blameer!! Maak vrede dat jou kind dood is van n fratsongeluk en beweeg aan met die Here se hulp! Wat jy nou doen is net bloot kleinlik…

Francois Le Cochon ·

Mense, nerens word enigsins melding gemaak van nalatigheid of onveiligheid. Die ouer se argumente is gebasseer op die enkele feit dat die oord onwettig bedryf word. Ek se^ nie dit is die geval nie, maar as ‘n glybaan gebruik word op ‘n manier wat verbied word, soos bv staan ipv sit, en jy kry seer, dan kan jy nie eis omrede die instansie onwettig bedryf word nie.

Harley Davidson ·

Die plek is nie wettig ,sou die aansoek ingehandig geword het by die metro vir sonering sou die metro die plek besoek het en ‘n volledige risk assesment gedoen en sou die plek nie veilig wees nie sou die eienaar kans gekry het om dit reg te stel waarna ‘n sertifikaat uitgereik sou word.

Gerhardus ·

Indien die eienaars ‘n oord onwettig en sonder die nodige sonerings bedryf het en die optrede het gelei het tot die dood van kinders dan behoort hulle van moord aangekla word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.