Vier keer lewenslank én 50 jaar vir reeksverkragter

(Argieffoto)

Die hooggeregshof in Mpumalanga het ʼn reeksverkragter gevonnis tot vier lewenslange vonnisse en 50 jaar direkte tronkstraf nadat hy op verskeie aanklagte van verkragting skuldig bevind is. Hy het skuldig gepleit.

Sydwell Joseph Malatjie (44) het tereggestaan op altesaam nege aanklagte van verkragting, het Monica Nuyswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, gesê.

Malatjie het tussen Desember 2012 en Junie 2018 slagoffers na hul huise in Acornhoek en Bosbokrand gevolg en laatnag of in die vroeë oggendure ingebreek. Hy het sy slagoffers soms met ʼn mes gedreig en dan verkrag.

Nuyswa het gesê Malatjie het drie van sy slagoffers herhaaldelik verkrag.

Een vrou is ook ten aanskoue van haar sewejarige kind verkrag.

In nog ʼn voorval in Junie 2018 het Malatjie ʼn 11-jarige meisie teëgekom wat alleen huis toe gestap het. Hy het haar gewurg en in ʼn bos ingesleep waar hy haar verkrag het.

Inwoners het hom betrap en die polisie ontbied.

Ná sy inhegtenisneming is DNS-monsters ontleed wat hom met talle van sy vorige misdade verbind het, het Nuyswa gesê.

Staatsadvokate Lihle Ngcobo en Tula Bekwa het tydens strafverswaring die hof gevra om Malatjie besonder swaar te straf.

“Hulle het aan die hof gesê dat Malatjie vir niemand respek het nie. Die slagoffers is in hulle huise oorval, waar hulle veronderstel is om veilig en gekoester te voel. Die staat het ook aangevoer dat ʼn duidelike boodskap gestuur moet word dat gedrag soos dié nie in die gemeenskap geduld gaan word nie,” het Nuyswa gesê.

Regter Anna Maleshane Kgoele het tydens vonnisoplegging geen dwingende redes gevind om van die voorgeskrewe minimum vonnis vir Malatjie af te wyk nie.

Die regter het gesê Malatjie het nie skuldig gepleit omdat hy berou oor sy dade het nie, maar weens die waterdigte saak wat die staat teen hom gehad het.

Sy het Malatjie vier lewenslange vonnisse vir die herhaalde verkragtings en die verkragting van die 11-jarige kind opgelê en tien jaar tronkstraf elk vir die verkragting van elk van die volwasse vroue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

In SA word die vonnis aleewig aaneenlopend uitgedien. So nie te lank nie dan kry hy Parool

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.