Vier keer lewenslank vir pa wat moor

Phasha se aansoek om borgtog is die afgelope week weer van die hand gewys. (Foto: SA Polisie)

ʼn Prokureur van Limpopo is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op sy vier kinders.

Die hooggeregshof in Polokwane het Senyatsi Lucas Phasha (52) skuldig bevind op elk van die vier aanklagte.

Phasha is in Februarie verlede jaar in hegtenis geneem op dieselfde dag waarop sy kinders, Katlego (9), Joyce (7), Tshepo (5) en Adel (2), grusaam vermoor is. Die kinders se liggame is op twee verskillende plekke in die Burgersfort-omgewing aangetref.

Die drie oudste kinders is doodgekap en die jongste kind se kop is teen ʼn klip verbrysel.

Maroela Media het vroeër berig Phasha, wat in daardie stadium op parool vrygelaat was, het die kinders vermoor nadat hy hul ma glo van ontrouheid beskuldig het.

Hy het voor die moorde ʼn rits inskrywings op sosiale media gemaak waarin hy sy vrou ook daarvan beskuldig het dat sy hom met MIV besmet het. Hy het gedreig dat sy die kinders nooit weer sal sien nie.

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiehoof in Limpopo, het die swaar straf verwelkom wat Vrydag aan Phasha opgelê is.

“Die vonnis moet ʼn sterk boodskap aan oortreders van soortgelyke misdade stuur dat hulle geen genade betoon sal word nie om sodoende ʼn einde aan nog voorvalle te maak,” sê Hadebe.

Sy het ook die ondersoekspan vir hul werk geloof en inwoners van die gebied, wat inligting oor die moorde bekend gemaak het, vir hul samewerking bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

Afrika bly n land van gruwelhede en moorddadigheid Dit bly egter tragies en so onnodig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.