Vier keer lewenslank vir reeksverkragter van Hermanus

Die Wes-Kaapse hooggeregshof. (Argieffoto)

’n Reeksverkragter is Donderdag tot vier keer lewenslank en ’n verdere 385 jaar tronkstraf in die hooggeregshof in Kaapstad gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op 44 aanklagte. Dié aanklagte wissel van verkragting, roof en aanranding met die doel om ernstig te beseer tot ontvoering.

Die reeksverkragter is in 2018 in hegtenis geneem en het aanvanklik skuld ontken. Hy het egter onlangs ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan nadat sy DNS met 15 sake van verkragting verbind kon word.

Al dié verkragtings het tussen Hermanus en Sandbaai plaasgevind. Twee van die slagoffers was minderjarig, tussen 14 en 15 jaar oud.

Die slagoffers is almal van hul selfone en kontant beroof waarna hulle na ’n afgeleë plek langs Zwelihle tussen Hermanus en Sandbaai geneem, aangerand en verkrag is.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê die polisie het ’n saak van reeksverkragting in Maart 2016 begin ondersoek. Die verdagte was in dié stadium egter onbekend en die slagoffers was nie in staat om hom te identifiseer nie aangesien hy met elke verkragting ’n sykous of klapmus oor sy kop en gesig gedra het.

Die man is egter in Mei 2018 in Hermanus in hegtenis geneem nadat hy in verdagte omstandighede naby die misdaadtonele gevind is. Hy is later deur middel van sy DNS met die verkragtings verbind.

Vyf van die slagoffers het die vonnisoplegging bygewoon en was baie tevrede met die uitslag van die saak, sê Van Wyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elsa

Née asb. Ek wil nie nog vir hom sorg teen R450 per dag tot hy in die tronk doodgaan. Maak n ander plan met hom.

Sarel

4 x Lewenslank bestaan nie in SA nie

Aaneenlopend..( miskien 20jr) …Parool …..pleeg selfde misdaad….kry weer lewenslank