Vier kinders is onder die vyf slagoffers wat die afgelope naweek in ʼn huis in Ndwedwe in KwaZulu-Natal doodgebrand het.
Nooddienswerkers het die liggame van ’n 45-jarige man en vier kinders, tussen 13 en 16 jaar oud, in dieselfde kamer van die huis gevind.
Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), sê hulle het vroegmiddag verskeie oproepe van inwoners van die omgewing oor die brand ontvang.
“Een inwoner het gesê daar is mense in die huis vasgekeer en wat gehoor kon word waar hulle om hulp skreeu,” sê Balram.
Reaksiebeamptes en paramedici is omstreeks 13:25 na die toneel ontbied. Met hul aankoms op die toneel was die polisie reeds daar.
“Die huis was heeltemal in vlamme gehul. Inwoners het by die huis probeer inkom deur vensters te beek en die diefwering te verwyder, maar die vlamme was te erg.”
ʼn Snoepwinkel wat ook paraffien, diesel en petrol verkoop, is uit die huis bedryf.
Die eThekwini-nooddiens het gespook om die brand in bedwang te bring.
“Hidrouliese gereedskap is gebruik om die huis se veiligheidshek oop te breek sodat brandbestryders die huis kon binnegaan. Die liggame is in een vertrek van die huis gevind.”
Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, het gesê dit is in hierdie stadium onduidelik hoe die brand ontstaan het. Die voorval word ondersoek.
Kan seker dankie se dat daar nie dinamiet ook daar gestoor, en verkoop is nie. Rerig….petrol, parrafin en diesel vanuit ‘n huis verkoop!
Hartseer……