Die liggame van vier kinders is Dinsdagmiddag in ʼn toegesluite boksvrieskas in Ermelo, Mpumalanga aangetref.
Brig. Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die kinders, tussen vier en sewe jaar oud, het vermoedelik in die vrieskas gespeel toe hulle daarin toegesluit is, en glo versmoor het.
“Drie seuntjies en ʼn dogtertjie het glo omstreeks 13:30 in Klipbou in die vrieskas gespeel en is daarin vasgekeer,” het Mohlala gesê. “Hulle is eers 17:30 opgespoor, waarna hulle na die naaste hospitaal gehaas is. Hulle is met hul aankoms by die hospitaal dood verklaar.”
Dit is nog nie bekend hoe die vrieskas gesluit het nie.
Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
So ongelooflik sad !!
Iets klink vir my verdag!