Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die botsing het Sondag sowat 20km buite Kuruman plaasgevind. “Die motor het op sy sy aan die kant van die pad gelê en die bakkie het in die noodbaan gestaan.”
Talle van die bakkie se passasiers is glo tydens die botsing van die bakkie geslinger en het in die pad gelê. “Vier kinders, tussen die ouderdomme van vier en agt, het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.”
Volgens Meiring is vyf mense, wat twee seuntjies tussen een en twee jaar oud insluit, beseer. “Paramedici het die pasiënte op die toneel behandel voordat hulle na die Kuruman-hospitaal geneem is vir verdere mediese sorg.”
Die pad is lank gesluit weens die botsing. Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.
Volgens ‘Arrive Alive’ was die ongeluk ‘n kop teen kop botsing en het in die namiddag gebeur. Sou die ligging van die son een van die bestuurders verblind het? Was die bakkie oorlaai en die bestuurder beheer verloor het? So kan ek aangaan met bespiegel wat vrugteloos is. Wat wel waar is is dat ‘n menslike fout ingesluip het en dus was die ongeluk verhoedbaar. Weereens sal gemonteerde kameras uitsluitsel gee oor wat gebeur in ongelukke.
Sover ek weet, is die vervoer van mense agter op ‘n bakkie onwettig.