Vier kinders verloor ma in huisbrand

Foto: Rescue Care.

ʼn Ma van Durban is in ʼn huisbrand dood terwyl haar vier kinders, tussen twee en 10 jaar oud, daarin kon slaag om te ontsnap.

Ceron Lennox, woordvoerder van Rescue Care, het gesê die voorval het in Lewis Byronrylaan in Malvern in Durban plaasgevind. “Ons paramedici het omstreeks 20:30 saam met die Durbanse brandweer by die toneel opgedaag. Die huis was in vlamme gehul,” het Lennox gesê.

Volgens Lennox het die brandweer gespook om die brand te blus terwyl paramedici die kinders ondersoek het. “Ná die brand geblus is, is ʼn vrou in haar 30’s in die huis gevind met ernstige brandwonde. Daar was niks wat ons vir haar kon doen nie en sy is op die toneel dood verklaar,” het Lennox gesê.

Een van die bure het intussen glo na die kinders omgesien.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê daar was glo nie lig in die kinders se slaapkamer nie en hulle het ʼn kers opgesteek. “Die kers is langs ʼn gordyn geplaas en dit het aan die brand geslaan,” het Zwane gesê.

Die kinders het glo geskree dat die kamer brand en die ma, wat buite die huis saam met ʼn familievriend was, het in die huis ingehardloop om die brand onder beheer te probeer kry en haar kinders te red.

“Sy het in een van die slaapkamers vasgesit omdat die handvatsel van die deur nie gewerk het nie,” het Zwane gesê.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

CAROL ·

Ouch die is nou rerig einas. Shame arme kinders nog so jonk. Hoop hul het n plek om heen te gaan.

Adel ·

Ai dis vreeslik hartseer…… sterkte vir die kinders, altyd so erg om te dink dat die kinders dalk geskei gaan word van mekaar xxx

Geskok ·

Geskok vir die arme kinders en familie. Goeie Ma wat haar kinders probeer red, ek kan net nie verstaan dat sy ingehardloop het en toe wou die deurknip nie werk, dalk moes sy by ‘n ander uitgang uitgaan en dit het nie gewerk. Mens moet maar ligte regmaak as dit nie werk nie en kerse moet nie rondlê, kinders kan nie die gevaar sien soos volwassenes nie en met so tragedie gaan hul skuldig voel oor hul Ma se dood terwyl hul ook die verlies moet verwerk. Ek hoop regtig hul kry berading. Ek oordeel nie die Ma, dit gebeur in elke huis dat die lig blaas of wat ookal en kerse, maar o jinne dit is sooo gevaarlik.

Mike ·

Sjoe tragies maar die wereld brand omtrent,!!! hier en oorsee…………………………

Delia ·

Dalk is ek nou buite orde, maar waar was die ‘familie vriend’ hierdie tyd?
So baie jammer vir die kinders…. sterk staan!

Inge ·

Dit is verskriklik! Wat ‘n frats ongeluk, die arme kinders en die arme ma. Vaderland…

Johan Grobbelaar ·

Ek was daar en het probeer uithelp voor die brandweer gekom het. As enigiemand dalk enige hulp kan aanbied om die kinders te kan help, kan julle my kontak op johangro (at) gmail (dot) com

Liza ·

Ek het al my jare in Malvern gebly en my niggie bly nogsteeds daar. Blykbaar is hulle papa ook dood aan suikersiekte soos ek verstaan en is hulle nou sonder enige ouers.

Liza ·

Volgens hoor sê,vanaf die Queensburgh watch is die papa daai oggend oorlede. Is dit waar Johan Grobbelaar?

Johan Grobbelaar ·

Hi Liza. Ja dit is waar. Van suikersiekte. Hulle het so 3 uur van die hospitaal af gekom. Die een kind se lig het nie gewerk nie toe steek hy ‘n kers aan te naby die gordyn. Ons het gespook om die Ma uit haar kamer deur die diefwering te kry maar kon nie die diefwering afkry nie, en moes aanskou hoe die dak op haar val en sy basies voor ons doodbrand. Daarna was die hoofdoel net om vlamme van haar liggaam te probeer af hou tot die brandweer opdaag. Nie n dag wat ek sommer sal vergeet nie, en ook nie iets wat ek wil herleef nie

Riena ·

Sjoe hierdie is verskriklik! Hoop daar is iemand wat hierdie kindertjiies met liefde kan omvou sonder om te verwyt. `n Lang pad wat saam met hulle gestap moet word om hulle met liefde en sorg op te voed. Kom ons help bydra soos met ander hartseer gevalle.

WW ·

Hoe verskriklik tragies. Arme arme kindertjies…..my hart breek. Mag die Vader se hand van beskerming oor julle wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.