Die liggame van vier mans is Maandag in ʼn woud naby Libode in die Oos-Kaap gevind.
Lt.kol. Mzukisi Fatyela, woordvoerder van die polisie, het gesê die mans, tussen 30 en 55 jaar oud, se liggame het veelvuldige wonde gehad.
Daar word vermoed dat die mans inwoners van die nabygeleë Mphangana-nedersetting was en met veediefstal in die gebied verbind is. Hulle is vermoedelik vermoor nadat die gemeenskap die reg in eie hande geneem het.
“Die polisie ondersoek vier sake van moord en ons is tans in die proses om die verdagtes op te spoor. ʼn Streng waarskuwing is aan lede van die gemeenskap gegee om nie die reg in eie hande te neem nie,” het Fatyela gesê.
“Die SAPD sal nie wraaksoekers wat self misdadigers word, duld nie. Dit is van kritieke belang dat gemeenskappe saam met die SAPD werk deur misdade, ongeag die aard daarvan, by die polisie aan te meld.”