Vier lyke, tonne rommel van Everest verwyder

Van die tonne rommel wat op berg Everest opgetel is.
(Foto: Bikram Rai/AP)

Nepalese bergklimmers het vier liggame en nagenoeg 11 ton se dekade oue rommel op berg Everest en die gedeelte onder die basiskamp verwyder as deel van ʼn poging om die wêreld se hoogste berg op te ruim.

Klimmers wat teruggekeer het van die 8 850 meter hoë berg sê die hange is besaai met menslike ontlasting, gebruikte suurstoftenks, geskeurde tente, toue, gebreekte lere, blikkies en papieromhulsels wat klimmers neergegooi het. Dit word beskryf as ʼn verleentheid vir dié land wat ʼn waardevolle inkomste verdien uit Everest-ekskursies, berig Reuters.

Die rommel, asook die liggame van sommige van die 300 mense wat oor die jare op Everest se hange gesterf het, is gedurende die wintermaande verberg onder sneeu, maar word sigbaar wanneer dit in die somermaande smelt.

ʼn Lang ry bergklimmers op Everest (22 Mei 2019) (Foto: Nimsdai Project Possible via AP)

ʼn Skoonmaakspan bestaande uit 20 sjerpa-klimmers het in April en Mei vyf ton rommel by verskillende kampterreine bo die basiskamp opgetel en nóg ses ton op gebiede onderkant die basiskamp, het Dandu Raj Ghimire, direkteur-generaal van die land se departement van toerisme, gesê.

“Ongelukkig kon sommige rommel wat in sakke by South Col bymekaar gemaak is, weens gure weer nie teruggebring word nie,” het Ghimire Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Everest se kruin is in 1953 vir die eerste keer deur die Nieu-Seelander Sir Edmund Hillary en sjerpa Tenzing Norgay bereik en nagenoeg 5 000 mense het sedertdien gevolg. South Col, die roete op die suidoostelike rif wat Hillary en Norgay gevolg het, is 8 016 meter hoog en is die tuiste van die laaste kamp van waar klimmers dan met hulle pogings begin om die kruin te bereik.

Die vier liggame wat teruggebring is, is nog nie geïdentifiseer nie en dit is onbekend wanneer dié klimmers gesterf het.

Vanjaar het nege bergklimmers aan die Nepalese kant van Everest gesterf, terwyl twee aan die Tibettaanse kant dood is. Dit was die dodelikste klimseisoen sedert 2015.

Klimmers wat van Everest teruggekeer het, het vertel van skares mense en vertragings aan die Nepalese kant net onder die kruin in die sogenaamde doodsone, só genoem omdat ʼn gebrek aan suurstof op daardie hoogte dodelik kan wees. Klimmers en gidse pak die skuld vir die sterftes op ʼn verskeidenheid faktore.

Die toerismedepartement sê die sterftes is nie weens opeenhopings nie, maar weens gure weer en kort tydperke waarin die kruin bereik kan word.

Nepal het vanjaar 381 permitte vir Everest uitgereik. Dit kos $11 000 (sowat R160 000) elk en is ʼn belangrike bron van inkomste vir die land. Die owerhede daar is veroordeel omdat die getal permitte om die berg te klim, nie beperk word nie. Enigeen met ʼn doktersbrief en geld om vir die permit te betaal, kan Everest gaan uitklim.

Kenners het vroeër gesê daar was baie meer mense op Everest as wat daar veronderstel is om te wees. Onervare klimmers was onder meer ʼn hindernis vir ander mense en dit het vertragings op die berg veroorsaak.

Saray N’kusi Khumalo het Donderdag, 16 Mei 2019 die eerste swart vrou uit Afrika geword om die piek van Mount Everest te bereik. (Foto: Facebook via Summits with a Purpose)

Maroela Media het vroeër berig Saray N’kusi Khumalo, ʼn Johannesburgse sakevrou, het vanjaar die eerste swart vrou uit Afrika geword om die piek van berg Everest te bereik.

Khumalo is in Zambië gebore en is van Rwandese herkoms, maar het nou as Suid-Afrikaner en ná vier pogings haar doelwit bereik om die eerste swart vrou uit Afrika te word om dié berg suksesvol uit te klim.

Sy moes in 2017 per helikopter van die berg af gered word nadat sy tydens ongure weer beseer is. Sy was in 2014 op Everest gedurende ʼn ysstorting en in 2015 weer gedurende ʼn aardbewing. In 2017 het sy die suidelike piek bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wow ·

4 maal R160 000. Sy het baie geld. Dit is net vir die permit. Crazy wat pride mense kos.

Tina ·

In my lewe het ek baie “berge” oor geklim om my kind uit haar pa se kloue te red… dit sou welkom gewees het as iemand soveel geld vir my kan gee sodat haar universiteits kostes kon betaal.

Heksie ·

Ag nee, met R160k kan ek baie meer uitrig as om myself onnodiglik te gaan blootstel aan allerande gevare om ‘n berg te klim, tot bo te kom, ‘n paar kiekies te neem en dan weer af te klim … dis ‘n mors van geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.