Vier moordsake in Noordwes ondersoek

Argieffoto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD, Facebook

Die polisie in Noordwes het aangekondig dat hy vier moordsake in die provinsie ondersoek.

Kapt. Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn 22-jarige man het Sondag glo sy 26-jarige vriendin met ʼn mes doodgesteek buite haar huis in Ipelegeng. “Die verdagte het na die voorval weggehardloop en is later in hegtenis geneem.” Hy sal na verwagting Dinsdag in die Schweizer-Reneke-landdroshof verskyn.

ʼn 27-jarige vrou sal intussen Dinsdag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn nadat sy glo Sondag haar kêrel met ʼn mes doodgesteek het in Jouberton. Die paartjie was glo die vorige aand in ʼn argument betrokke.

In nog ʼn voorval in Jouberton het drie mans glo ʼn ander man met klippe doodgegooi. “Die oorledene se lyk is in ʼn veld gevind en sy regteroor, bo-lip en neus is verwyder,” het Makau gesê. Een verdagte is in hegtenis geneem terwyl die ander twee verdagtes steeds soek is. Die verdagte sal Dinsdag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn.

Gawie Willeme (32) het intussen Maandag in die Vryburg-landdroshof verskyn op aanklag van moord. Die saak is tot Vrydag uitgestel wanneer hy om borg sal aansoek doen. Hy bly in aanhousding. Willeme het na bewering Sondag ʼn man in sy nek gesteek. Die slagoffer is in die hospitaal oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.