Vier N1-ysterpenboewe in die hof

‘n Sak vol ysterpenne is in die verdagtes se besit gevind (Foto: Heritage Protection Group, Facebook)

Vier verdagtes wat glo ysterpenne op paaie in Limpopo geplaas het – met die doel om mense te beroof –  het Vrydag in die landdroshof in Mokopane verskyn.

Paul Mudzinga (47), Brighton Becelit Chauke (51), Tshepiso Relela (32) en Percy Chauke (32) staan tereg op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van die oortreding van die Immigrasiewet en ook aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die verdagtes het glo ysterpenne op die N1 tussen Polokwane en die Kranskop-tolplaza buitekant Modimolle en die R101 geplaas om motoriste sodoende in ʼn lokval te lei en te beroof.

ʼn Paar voorvalle is in Augustus op hierdie paaie aangemeld waarin motoriste se bande deur dié ysterpenne gesny is. Die motoriste was verplig om stil te hou en hul bande te vervang en is dan beroof.

Die verdagtes het ook horlosies en selfone in hul besit gehad (Foto: Heritage Protection Group, Facebook)

Volgens Mashudu Malabi Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, is die vier verdagtes in die besit van ʼn sak vol ysterpenne gevind. Hulle het ook ʼn polisiedienspistool, 27 rondes ammunisie, selfone, bankkaarte en horlosies in hul besit gehad.

Volgens die Heritage Protection Group (HPG) het boere verlede week die vier verdagtes by ’n berg digby die Sebetiela-tolplaza gewaar. Dit het gelyk asof hulle wegkruip. HPG en die polisie in Mokopane is na die toneel onbied. By hul aankoms daar het die verdagtes probeer vlug.

Mudzinga en Brighton Chauke is egter betyds voorgekeer en summier in hegtenis geneem.

“Nog verdagtes wat met verskeie gevalle van hierdie soort rooftogte verbind kan word, is later in Gauteng vasgetrek,” sê HPG in ʼn verklaring.

Relela en Percy Chauke is later in Gauteng in hegtenis geneem.

Die verdagtes sal na verwagting weer op 1 Oktober in die hof verskyn wanneer hulle dan formeel om borgtog sal aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter ·

Bly die boere is so op en wakker. Lyk van die misdadigers is buitelanders. Beste is doodstraf, verwyder hulle permanent. Hierdie slang gaan weer pik.

Frank John ·

Eintlik moet hulle nie eens die kans op borgtog kry nie, nie eens om aansoek te doen nie. Hulle is betrap met al die bewyse, moet sommer gevonnis word. Die bewyse sê klaar hulle is skuldig. Enigste verhoor is om te vonnis.

Peach ·

Hmmmm “IMMIGRASIEWET”….. beteken dit dat hulle boonop nog “onwettige land’s burgers” ook is?

Dries ·

Hierdie buitelanders gaan verseker verdwyn as daar borgtog tegestaan word.

Wielspore ·

Die sukses van die arrestasie is nie as gevolg van die Polisie, dit was bekommerde gemeenskaps lede wat op hul eie stappe geneem het om die oortreders aan te keer. Veer in die hoed vir die boere.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.