Vier, onder wie twee tieners, vas in Browns Farm

(Argieffoto: Miguel Roberts/AP)

Vier verdagtes, onder wie twee minderjariges, sal vandeesweek in die hof verskyn nadat hulle Maandag in hegtenis geneem is vir hul betrokkenheid in verskeie misdade in die Browns Farm-omgewing in die Wes-Kaap.

ʼn 17-jarige verdagte is in hegtenis geneem nadat die polisie op hom en sy makker afgekom het waar hulle besig was om ʼn man en sy vriend met ʼn vuurwapen te beroof.

Polisielede wat op patrollie was, het geweerskote in ʼn woning in Vukuthustraat gehoor en ondersoek ingestel. Twee verdagtes het glo uit die huis gehardloop en ʼn skoot in die rigting van die polisie afgevuur. Die minderjarige verdagte het die vuurwapen laat val en probeer wegkruip.

Die polisie het hom in hegtenis geneem vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Ná verdere ondersoek het dit aan die lig gekom dat die verdagte en sy medepligtige die twee slagoffers genader het terwyl hulle in Mlonjistraat geloop het. Hulle het die mans in ʼn erf in gedwing, hulle deursoek en beroof.

(Foto: Verskaf)

In ʼn afsonderlike voorval is nog drie verdagtes, 14, 25 en 28 jaar oud, in hegtenis geneem nadat hulle ʼn huurmotorbestuurder in Kamangostraat in Browns Farm beroof en gekaap het.

Die verdagtes het na bewering ʼn versoek gestuur om in Browns Farm opgelaai te word en toe die bestuurder gekaap en hom van sy selfoon beroof. Die voertuig is later verlate gevind.

Een verdagte is in hegtenis geneem en ondervra wat gelei het tot die inhegtenisneming van die ander twee verdagtes.

Al die verdagtes sal na verwagting vandeesweek in die Athlone-landdroshof verskyn nadat hul formeel aangekla is.

Die 17-jarige sal teregstaan op aanklag van poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, die 14- en 25-jarige verdagtes op aanklag van roof en die besit van ʼn gesteelde voertuig terwyl die 28-jarige deur ʼn aanklag van kaping in die gesig gestaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.